Die Singende Curriebeker Kampioen
Jy kry die “Singende Cowboy” en nou kry jy die “Singende Curriebeker kampioen”.
Toe Jimmy Stonehouse rustyd losgetrek het met “Sweet Caroline” was dit een van die hoendervleis oomblikke tydens die wedstryd tussen die Bokke en All Blacks in Mbombela.
Die Curriebeker kampioen afrigter het vol selfvertroue gesing:
Where it began, I can’t begin to knowing
But then I know it’s growing strong
Was in the spring
And spring became the summer
Who’d have believed you’d come along
Hands, touching hands…
En toe sing meer as 40 000 mense saam!
Maar gaan hy nou die afrigters fluitjie verruil vir die mikrofoon?
Hy antwoord vinnig: “Nee, skoenmaker hou jou by jou lees.”
Dit beteken natuurlik nie dat sy optrede by die Boktoets sy laaste was nie. Hy sing gereeld by sy restaurant, Die Vlakvark, in Pretoria, veral wanneer daar rugby is.
Op 27 Augustus sing hy by die Winterveldfees in Steelpoort en op 28 Oktober in Klerksdorp saam met Radio Raps.
Hy het al voorheen by Madness in Ermelo opgetree en die Sitrusfees op Nelspruit.
Maar waar het die singery begin?
“Ek is mal oor sing, my rugbyspanne sing almal, ek het al baie lank gekaraoke, maar sing die laaste drie jaar voor mense.”
As onderwyser by Hoërskool Ermelo het hy die hoofrol gespeel in Fidler on the Roof.
Sy gunsteling musiek?
“Country!”
Gunsteling sanger of groep?
“Neil Diamond, Steve Hofmyer/Juanita du Plessis.”
Watter tipe liedjies sing hy?
“Country, alles van Neil Diamond, Steve, Bruce Springsteen.”
Maar wat sê die spelers van sy singery?
“Hulle love dit, maar is seker ook al gatvol, want oral waar ons kom, moet ek altyd sing.”
Na sy optrede by die Boktoets, waar sal hy nog graag wil sing?
“Beslis Innie Bos en Afrikaans is Groot.”
Na die note weggesterf het uit die Mbombela Stadion was die algemene kommentaar: “Ons het nie geweet Jimmy kan so mooi sing nie”.
Maar kan ons ’n nuwe vrystelling in die toekoms verwag?
“As ek reg onthou het AB de Villiers eenkeer ’n CD (Summer of 69) gemaak, toe sê die mense hy moet liewers krieket speel. Ek het nogal gedink dis nie te sleg. Netnou sê hulle ek moet net rugby afrig!”
Maar wat was sy belewenis om voor soveel mense in sy tuisdorp te sing?
“Dit was amazing en ’n moerse wow vir my. Ek het dit gelove, dit het my baie geïnspireer.”
