News

Frankie wil nuwe lewe in Pretoria begin vir sy kind

Frankie Swart (35) sê hy het nié ’n kettingsaag gesteel nie.

Met ’n loopring vir sy babaseuntjie oor sy skouers en ’n sak kleertjies en geskenkies in ’n swartsak in die ander hand, stop hy by die Middelburg Observer se kantore voor hy ’n geleentheid Pretoria toe kry.

“Ek wens mense wil my net uitlos!” vaar hy eerstens uit, voor hy instem om met die joernalis te praat.

“Ek het nié daardie kettingsaag gesteel nie. Dit is mense op die hoek wat naby my ouers bly en sommer net aangeneem het ek het dit gesteel. Hulle het geen bewyse nie!”
Hy erken ruiterlik dat hy ’n probleem het met aggressie, “maar dat ek daaraan werk.”

Frankie is omgekrap dat almal net aanneem dat hy steeds aan dwelms verslaaf is. Lees berig hier:

“Ek is ’n pappa nou en probeer my lewe regkry. Hoekom kan niemand my net ’n kans gee nie. Ek sal sodra ek in Pretoria kom, dat die maatskaplike werker waardeur ons werk, my toets en vir julle laat weet of ek skoon getoets het! Ek moet skoon toets om my kind te kan sien.”

Daar is vir hom gevra of hy nie kan insien dat mense net aanneem hy het weer gesteel nie, oor sy verlede, en het hy toegegee dat dit hul rede kan wees.

“Ja ek het by die dominee gesteel, maar weet almal hoe hard ek gewerk het toe ek in die Noord Kaap saam met hulle was? Tel dit nie vir iets dat ek daarvoor gewerk het nie?”

Hy raak skaam as hy vertel hoe hy sy ma en stiefpa besteel het.

“Ek het meer as R90 000 skade aan my ouers berokken, maar hulle het my nog nooit afgeskryf nie. Hulle sê elke keer dat ek net my lewe moet regkry en bied selfs nog vir my kos en blyplek aan. Ek kan egter nie daar bly of eet nie, want ek verdien dit nie! Hulle het nog altyd vir my omgegee, al het ek wát gedoen. Ek skuld hulle so baie.”

Frankie sê hy weet dat Middelburgers hom uit die dorp uit wil hê oor wat hy as dwelmslaaf voorheen aangevang het.

“Ek gaan in Pretoria my lewe regkry, want ek het werk gekry. Dan sal ek eendag terugkom om vir almal te wys dat ek verander het.”

Sy oë word sag as hy die loopring weer oor sy skouers gooi.
“My kind sal nooit op straat beland soos ek nie, daarvoor sal ek sorg. Ek gaan nou tyd maak vir my en my kind en ’n voorbeeld wees vir hom. Hy hoef nooit te weet wie en wat ek in die verlede was nie”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button