Noodoperasie vir bloeding op brein na panga-aanval
Dokters by die Witbank Hospitaal is tans besig met ’n nood breinoperasie op die bejaarde man wat gisteraand saam met sy suster op die plaas Groot Rietvlei (Stoffberg omgewing) aangeval is.
Die rowers het mnr. Gert Joubert (66) se kop met ’n panga oopgekloof en me. Susan (Sannie) Luus (80) is met die platkant van die pangas aangeval en met haar bord, waaruit sy gesit en eet het, oor die kop geslaan.
Lees ook: Bejaardes met pangas aangeval: ‘Dit was ’n bloedbad!’
Me. Luus se dogter, Gerda Kyprou, sê hulle is tans by die Witbank Hospitaal waar die operasie op haar oom gedoen word.
Hy was sedert die aanval en sy aanvanklike behandeling by die Middelburg Hospitaal, die hele tyd by sy positiewe.
’n Breinskandering het aangedui dat hy bloeding op die brein het en ’n skedelfraktuur opgedoen het.
Lees ook: Aanvallers was ‘vriendelike gesinnetjie met pasgebore baba’
“Terwyl ek met jou praat, is hulle besig om die drukking weens die bloeding te verlig. Ons is baie optimisties want oom Gert is baie fiks en hy was nog die hele tyd stabiel,” sê me. Kyprou.
•Sy het weereens al die polisielede, asook die personeel van beide die Middelburg en Witbank Hospitale bedank vir hul besondere hulp en bystand. “Almal is so professioneel en behulpsaam. Hulle gee regtig om.”
