Plaaslike prokureur onder agt wat vir R2 miljard se Eskom korrupsie teregstaan
Gerugte dat die residensiële ontwikkeling, 3 On Buitekant Street, uit die opbrengs van Eskom se kaping opgerig is, volg die Koko's al jare.

Plaaslike prokureur Chris Coetzee is gister borg van R70 000 in die Middelburg Landdroshof toegestaan nadat hy vroegoggend saam met sewe ander beskuldigdes gearresteer is vir Eskom tenderbedrog van meer as R2 miljard.
Hy het saam die voormalige Eskom grootbaas Matshela Koko, sy vrou Mosima Koko, Koko se twee stiefdogters Koketso Aren en Thato Choma, die voormalige Salgda ringkop Thabo Mokwena, Kusile projekbestuurder Frans Sithole en besigheidsman Watson Seswai, by die beskuldigdebank ingeskuif.
Al agt beskuldigdes is aangekla vir korrupsie, bedrog en geldwassery.
Koko, Mokwena, Seswai en Sithole is elk R300 000 borg toegestaan tydens die marathon borgaansoek.
Coetzee, van Ströh en Coetzee Prokureurs, Koko se vrou, en die twee stiefdogters, se borg is op R70 000 vasgestel.
Die hof het gelas dat almal se paspoorte ingedien word.
Die beskuldigdes mag ook nie die provinsies waar hulle woon sonder toestemming verlaat nie en almal moet weekliks by die polisie aanmeld.
Sithole besit ’n diplomatieke paspoort en ’n eiendomsportefeulje van R12 miljoen.
Koko het buitelandse beleggings van R250 miljoen en die staat het aangevoer dat die hoëprofiel-beskuldigdes ’n vlugrisiko met miljoene in vloeibare bates het.
Die hof het egter gelas dat borg “in die belang van geregtigheid toegestaan word”.
Van Koko se familie het uitgebreide eiendomsbelange in Middelburg ook.
Gerugte dat die residensiële ontwikkeling, 3 On Buitekant Street, uit die opbrengs van Eskom se kaping opgerig is, volg die Koko’s al jare.
Die huidige klagtes spruit uit ’n kontrak wat aan die Switserse ingenieursmaatskappy Asia Brown Boveri (ABB) toegestaan is.
ABB het ’n R550 miljoen subkontrakteurs fooi aan Impulse International betaal, waarvan me. Choma ’n aandeelhouer is.
Sy het na bewering R30 miljoen vergoeding vir die kontrak ontvang, wat later na haar ma se rekening gekanaliseer is.
Moekona se Leago Engineering is ook deur ABB gesubkontrakteer, maar bande is na bewering op aandrang van Koko met Leage gebreek voor Impulse se aanstelling.
Mnr. Coetzee en sy medebeskuldigdes is almal deel van ’n groep van 17 wat ondersoek word, nadat regter Raymond Zondo kriminele klagtes in sy staatskapingsverslag voorgestel het.
Mnr. Coetzee het oomblikke gelede gesê “ek is onskuldig”.
Hy sê hy was destyds betrokke by die ontwikkeling van 3 On Buitekant Street, waartydens daar geld in sy firma se trustrekening deur die ontwikkelaars inbetaal is.
Die geld is egter weer uit die trust aan die ontwikkeling oorbetaal. “Die transaksies is bo verdenking,” sê mnr. Coetzee.
Die saak is uitgestel na 23 Maart volgende jaar.
