Geliefde Jurie Human sterf rustig in sy slaap
Middelburg is vanmore met hartseernuus begroet na die afsterwe van Jurie “Jors” Human in die sorgsentrum waar hy die afgelope drie weke behandel is.
Mnr. Human is in die Ultimate Home Nursing Services tehuis in Framestraat opgeneem, nadat hy in die Middelburg Hospitaal behandel is.
Volgens familielede het hy daar ’n beroerte gehad en ook ’n bedseer ontwikkel.
Hy was opgeneem weens ’n problematiese seer op sy been wat nie gesond wou word nie, waarna hy sepsis ontwikkel het.
Aan sy einde was hy baie verswak.
Hy het die laaste drie weke onverbeterlike sorg by Wilma Labuschagne van die verpleeghuis ontvang, waarvoor die Human familie oneindige waardering het.
Hy het Sondagaand vir sy broerskind, Mandi Kilian, gesê dat hy “wil huistoe gaan, dat die Hemelsevader my moet kom haal”.
Mandi sê dat hy vreedsaam omstreeks 02:00 vanmore in sy slaap oorlede is.
Mnr. Human was welbekend in die dorp en sy afsterwe het soos ’n veldbrand onder boesemvriende versprei, selfs onder lewenslange vriende wat hy aan die Angola grens tydens sy diensplig in 1978 gemaak het.

Drie van sy medesoldate het onder meer gesê, “ek onthou Jurie as daai fikse, fris gimnas, wat dinge kon doen wat ons net oor kon droom”.
’n Ander vriend sê “sy vriendelike glimlag is virewig gevestig in my gedagtes,” terwyl ’n derde laat weet het “Pokkels was een van sy soort, rus in vrede jou yster”.
Mnr. Human, of Jors, soos Middelburgers hom sal onthou, sou rotse uit die pad van sy vriende rol
“Hy het almal met daai ondeunde glimlag van hom te hulp gesnel, geen taak was te groot nie,” sê Mandi.
Mnr. Human laat sy broers Apie, Charlie, Gert en hul vroue Carol, Coleen en Esmé agter.
Naas sy eie drie kinders, laat hy ook Apie se kinders, Mandi haar man “Shauna”, Chantelle en haar man “Rubies” en hul broer Elandré Human, waarmee hy ’n besonder hegte verhouding gehad het, agter.
Daar sal eerskomende Woensdag om 11:00 van hom afskeid geneem word by die Lighuis Gemeente in Pongolastraat.
