Gebede toe vrou onder omgeslaande boot vasgepen is
’n Vrou was vir 25 minute onder ’n omgeslaande boot vasgepen wat omgeslaan het tydens die Queens of the Ocean hengelkompetisie.
’n Groep vroue van Middelburg het begin bid toe hulle hoor dat die boot in die rowwe St Lucia branders omgeslaan het.
“Ons het op die radio gehoor hulle sê ’n boot het omgeslaan en dat hulle nie die een vrou sien nie. Fransie het dadelik die Here gevra om haar te bewaar,” vertel Lecia Steele van Saterdag se gebeure.
Hul groep, wat bestaan het uit Lecia, Claire Burger, Fransien Myburg, Maryn Viljoen en Carmen Breedt, is saam met Skipper Chris Myburgh, en Johan Swart (gilly), met die Aqua Joy die see in.

Hulle was pas agter die branders, toe hulle hoor van die bootongeluk.
“Ons almal het gehuil en Fransien het begin bid. Eers 25 minute later het ons gehoor die vrou was die hele tyd onder die boot!”
Van die mense op die strand het gesien toe Delicacy ingaan.
’n Ooggetuie (wat anoniem wil bly) sê die deinings was sewe sekondes uit mekaar, wat dit baie moeilik gemaak het vir die skippers om hul bote sekuur deur die branders te stuur.
Die boot het sowat 100m van die strand af omgeslaan.

Daar was niks wat die skipper anders kon doen om die ongeluk te voorkom nie.
In hierdie tyd het die boodskappe op die radio deurgegaan dat een van die vroue vermis word.
Lecia se man, Tommie, was een van die mense wat gesien het wat gebeur.
Lede van die Nasionale Seereddings Instituut is die see in om die ander vroue en die skipper te help.
Tommie het ook van die vroue help uitswem. Hy het vir hulle sy selfoon gegee, sodat hulle hul families kon laat weet dat hulle veilig is, aangesien al hul besittings, waaronder hul selfone, ook die see in verdwyn het.
Die minute het soos ure verbygegaan waartydens daar aanmekaar in die see gesoek is vir die vrou.
“Eers toe hulle die boot flip, het hulle gesien dat die vrou onder die boot vasgepen was.”

Die seil van die boot het ’n lugborrel gevorm wat genoeg lug voorsien het dat sy lewendig onder die boot uitgehaal is.
“Sy het van die brandstofdampe ingeasem, maar het dit oorleef!”
Lecia sê dat een van die vroue wat van die boot af geval het, haar sleutelbeen seergemaak het het en ’n ander een het gesê haar rug is seer.
’n Ambulans is ontbied, maar gelukkig is al die vroue dieselfde dag na behandeling ontslaan.
“Daar het die aand tydens die prysuitdeling baie trane van dankbaarheid gevloei omdat almal oorleef het.”
•Youtuber Petrus Viviers (@PetrusandPardette Extreme Boating) het videos geneem van die reddingspoging.
Hy het die hele reddingspoging afgeneem en dit in ’n video van byna vier minute saamgevoeg (youtube.com/@PetrusandPardette).
•Hy het goedgunstiglik ingestem dat van die videomateriaal en foto’s op ons webtuiste gepubliseer word.
@middelburgobserver Woman trapped under capsized boat during fishing competition. Video credits: Petrus Viviers
Die volledige video kan gesien word by https://youtu.be/NUbGTf279oA
