Inbrekers los kantsnyer en leë beursie na inbraak
Tydens ’n vlaag van inbrake in die omgewing van Cowen Ntuli- en Oosstraat, het ten minste vier besighede deurgeloop.
Van die boewe is gister (Sondag) op heterdaad betrap by Totally Board.
•Vrydagaand was die eerste roeringe sigbaar toe inbrekers tydens beurtkrag ’n gat gemaak het in ’n venster by Auto Carb in Oosstraat, maar die aftog geblaas het, omdat daar diefwering aan die binnekant was.
Daar is ’n skroewedraaier en ’n stuk baksteen gekry waarmee die venster gebreek is en ’n gat in ’n ander venster, waar ’n klip deurgegooi is.
Saterdagaand, kort na 23:00 het hul sekuriteitsfirma, Burglar Awake, hulle laat weet dat daar dié keer wel tydens beurtkrag by die besigheid ingebreek is.
Die inbrekers het die sterk diefwering met ’n kantsnyer oopgesny en daarna die glasdeur gebreek.
Na aanleiding van skoenmerke op die toonbank, kon gesien word dat een van die inbrekers oor die toonbank geklouter het om by ’n ou selfoon, wat besig was om te laai, uit te kom.
Daar is ook twee skootrekenaars gesteel.

Me. Du Toit meld dat daar na die inbraak ’n sak met inbreektoerusting onder die skadunet afdakke voor die besigheid opgetel is en ’n leë beursie langs die deur waar ingebreek is, gelê het.
Hulle het ’n sekuriteitswag vir die nag gehuur om die besigheid op te pas totdat die polisie die volgende oggend vingerafdrukke kon neem.
Een van die artikels wat hulle graag vir die polisie wou gee, was die beursie, aangesien hulle glo dat die eienaar van die beursie se vingerafdrukke daarop sou wees.
Die beursie het egter verdwyn.
•Mnr. Du Toit en sy personeel is tans nog besig om al die voorraad deur te gaan om te bepaal of daar nie nog artikels gesteel is nie.
•Mnr. Herbie Barlow glo as die reaksielede van Titon Sekuriteit nie so vinnig was nie, sou hulle die inbrekers in sy besigheid, Totally Board, gevang het.
“Maar hulle was te vinnig en hulle het nog nie ingekom nie.”
Hy was Sondag tot so 08:15 vinnig by sy besigheid en is huistoe.
Kort na 11:15 het Titon Sekuriteit hom laat weet dat hulle verdagtes op heterdaad betrap het wat wou inbreek.
“Hulle is laat gaan, want hulle het toe mos nog nie ingebreek nie!”
Mnr. Barlow het deur die loop van die oggend verneem dat daar, buiten by Auto Carb, ook by twee ander besighede ingebreek is.
