Verwarring oor Coetzee wat nie saam met Koko aangekla word
’n eMalahleni prokureur moes laasweek vure doodslaan met ’n amptelike persverklaring om vals gerugte dat hy op staatskapings-klagtes gearresteer is, in die kiem te smoor.
Mnr. Johan Coetzee van Johan Coetzee Prokureurs sê dat vals gerugte, sedert die arestasie van plaaslike prokureur Chris Coetzee van Ströh en Coetzee Prokureurs op 27 Oktober, versprei word dat hy inderdaad in die beskuldigdebank verskyn het.
Mnr. Coetzee sê dat die gerugte op sosiale media platforms rondgestuur word.
“Die prokureur wat inderwaarheid gearresteer is, en in die hof verskyn het, is mnr. Johannes Christiaan Coetzee, ’n prokureur van Middelburg,” lei die verklaring.
“Prokureur Johan Coetzee van eMalahleni en die praktyk Johan Coetzee Geïnkorporeer van eMalahleni het geen verbintenis met die prokureur wat gearresteer is nie,” maak die verklaring dit duidelik.
Mnr. Coetzee sê dat nog hy, sy praktyk, op enige stadium in belang van enige eertydse Eskom grootkop, hul families, hul regsentiteite of kontrakteurs wat aangekla is, opgetree het.
Mnr. Chris Coetzee is saam met voormalige Eskom-baas Matshela Koko, sy vrou Mosima, hul twee dogters en verskeie ander, ’n Brit, twee Duitsers en andere gearresteer weens bedrog en geldwassery op kontrakte wat uitgesit is tydens Kusile Kragstasie se konstruksie.
Die bedrog beloop meer as R2 miljard.
Mnr. Coetzee was betrokke by die stigting van trusts namens Mosima Koko en haar dogter Koketso Aren.
