News

Mense se lewens ‘nie veilig’ met rowers op vrye voet

Die rowers wat Middelburg teister is vir ’n tweede keer op CCTV videomateriaal vasgevang. Mense word gewaarsku om hulle onder geen omstandighede te konfronteer nie.

Daar is wild skote geskiet verlede Vrydag na ’n rooftog by Lucky Supermarket in die Cresta Sentrum (Walter Sisulustraat) nadat een van die personeellede die rowers probeer agterna sit het.

CCTV videomateriaal het hierdie week bevestig dat dit dieselfde groep is wat twee weke gelede ’n ander besigheid beroof het in die Sentrale Sakegebied.

Mnr. Johan Oberholzer (operasionele bestuurder, Mid Alarms) het na die videomateriaal gekyk en is uiters bekommerd oor die veiligheid van sakelui as hulle weer sou toeslaan.

“Dié mense is gevaarlik en sal nie skroom om te skiet nie!”

Hy meld dat die groep al 20 minute voor die roof begin rondstaan het in die omgewing en gereed gemaak het om die besigheid te beroof.

“Die een in die rooi keps lyk nie vir my of hy heeltemal stabiel is nie. Hy loop oop en bloot met die vuurwapen in sy hand 20 minute voor die roof. Dit is ook hy wat die skote geskiet het.”

Buiten die feit dat dié rower dieselfde keps en plakkies gedra het tydens die vorige roof, is die manier waarop hy die wapen hanteer het, ook dieselfde as die vorige roof.

“Ek vrees dat mense se lewens nie veilig is met hierdie groep op vrye voet nie. Mense moet hulle liewer nie konfronteer nie!”

•In die afgelope paar maande is verskeie besighede, soos drankwinkels, deur ’n groep van tussen vier en ses mans beroof.

’n Groep van vier kom gewoonlik in, roof die besigheid en word buite opgepik deur hul makkers in ’n voertuig sonder nommerplate. Daar word elke keer ’n ander voertuig sonder nommerplate gebruik.

•Enige persoon wat die polisie kan help in hul ondersoek na die rooftogte, kan 013 249 1601 of 08600 10111 bel.

Die “My SAPS” Toep (App) kan ook afgelaai word en inligting deurgestuur word. Onthou net om te meld dat die inligting wat gegee word van Middelburg, Mpumalanga afkomstig is. Inligting kan vertroulik hanteer word, sou dit verkies word.

https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7164705251948252422

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button