News

Na brand is daar trane van trauma én dankbaarheid

Trane van trauma dat hulle alles verloor het, maar ook trane van dankbaarheid omdat niemand seergekry het nie, het van gister af aanmekaar oor die Freemantle gesin se wange geloop.

Hulle het gister byna alles verloor in ’n verwoestende brand wat in hul kinders se kamer in Duikerstraat begin het.

“Ek het gister op die sypaadjie gaan sit en aanmekaar gehuil as ek dink wat kon gebeur het as die brand al die vorige nag begin het en my drie kinders was in daardie kamer,” het me. Esmari Freemantle gesê met trane wat oor haar wange loop.

Sy, haar ma, Werna van Deventer en haar jongste dogtertjie Mia (4), het in die sitkamer gesit.

Irmarie (14) was op pad kombuis toe om koffie te maak, toe sy rook uit hul kamer sien borrel.

Deon en Irmarie Freemantle met ’n foto van haar toe sy nog ’n klein dogtertjie was. Die glas van die geraamde foto het gebars van die hitte.

“Ons kamer brand!” het sy vir haar ma gegil en me. Freemantle het gedink sy maak ’n grap en nog gesê: “jy lieg!”
Sy het wel opgespring en die vlamme by die kinders se kamer gesien.

Me. Van Deventer het Mia gegryp en na buite gehardloop en me. Freemantle het vir Irmarie gegil om vir haar ’n emmer water aan te gee.

“Ek het die water gegryp en die deur probeer oopstoot, maar die deur was te warm en die vlamme te hoog. Ek het die water in die rigting van die kamer probeer gooi, maar het van skok mis gegooi, waarna ons uitgehardloop het. Ek het skoon die bewerasies gehad.”

Esmarie en Irmarie Freemantle wys wat oor is van Irmarie se Hoërskool Kanonkop sporthempie.

Irmarie het op pad uit hul twee klein hondjies gegryp.

Terwyl hulle magteloos gestaan en kyk het hoe hulle lewe se bymekaarmaak in die brand verwoes word, het die gemeenskap hul hartseer in dankbaarheid verander.

“Ons weet daar is mense wat baie te sê gehad het oor die brandweer, maar hulle het alles gedoen wat hulle kon.”

Bure het aangehardloop gekom en die Kanonkop en Dennesig Dagpatrollie het saam probeer om die brand te blus.
Hulle het egter nie vir lank in sak en as gesit nie.

Daar is niks oor in die dogters se kamer nie.

“Die mense in Duikerstraat 36 het self trauma gehad omdat hulle hul ma hospitaal toe moes neem, maar hulle het vir ons vyf borde kos gebring!”
Die lys van dankies groei by die minuut as hulle vertel “hoe oop Middelburg se harte en hande is.”

Hulle sê baie dankie vir ds. Colin Hertzog en die Hervormde Noord Gemeente wat dadelik kospakkies gestuur het.

Dank gaan ook aan:

Die paramedikuste van ER24 wat opgedaag om seker te maak die gesin het nie brandwonde opgedoen of rook ingeasem nie.

Hoërskool Kanonkop (waar Irmarie ’n leerling is) wat ’n area beskikbaar gestel het om artikels wat hulle kon red, te stoor. Hulle sal kyk of daar klere is vir Irmarie in die klerebank.

Hulle sal ook help met boeke en leerwerk sodat Irmarie kan studeer vir die eksamen.

Esmarie wys dat daar geweldig rookskade is oral in die huis. Selfs die glase is pikswart, al was die kasdeure toe.

Verskeie mense wat klere gebring het vir veral die kinders, want alles in die kamer is verwoes. Buiten Irmarie en Mia, is Deoné (10, ’n leerling van Laerskool Kanonkop) se klerekas en boeke ook daarmee heen,

Die Kanonkop en Dennesig Dagpatrollie vir al hul hulp.

Kobus en Werné (Irmarie se ouers) by wie hulle gisteraand kon oorslaap.

Gideon se werkgewers, Porta Tyres en Verspreiders wat hulle sedertdien ondersteun.

“Dan aan elke persoon wat sedert gister net daar is vir ons, wat skenkings maak, wat omgee, baie dankie. Ons waardeer julle almal!”

@middelburgobserver

Trane van trauma en dankbaarheid na brand

♬ original sound – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button