Kaptein Carla Hartley van die Delmas polisie, het bevestig dat sy op ’n toneel is waar ’n 80-jarige man oorlede is na ’n plaasaanval. Sy vrou van 79 het die aanval oorleef.
•Die polisie se forensiese span is op die toneel waar hulle die huis en omgewing fynkam vir leidrade.
•’n Vrou is ook om 10:00 Maandag in haar plaashuis op Roossenekal deur rowers verras.
Me. Martie Richards is vasgebind en gedreig voordat die boewe die plaashuis geplunder het.
Sy is gevra vir kontant en haar bankbesonderhede is ook versoek.
Me. Richards se aanvallers het gewag tot haar seun Hannes die huis verlaat, voordat hulle toegeslaan het.
Me. Richards is nie ernstig in die voorval beseer nie maar het erge skok opgdoen.
Daar is onder meer gedreig dat die inbrekers haar keelaf sou sny, sou sy nie gehoor aan hul eise gee nie.
Lees ook: Plaasaanvallers dreig om bejaarde se keel af te sny
Die plaas is ’n klipgooi weg van die dorpie se Engelse laerskool.
• Die noue ontkoming volg op ’n brutale plaasaanval op ’n bejaarde broer en suster in Oktober.
Die 80-jarige me. Susan (Sannie) Luus, ’n welbekende oud-onderwyseres van Laerskool Uitkyk, bly haar lewe lank op ’n gedeelte van die Groot Rietvlei plaas. Haar dogter en skoonseun bly ook daar, maar hulle het die dag van die aanval vroeg vertrek Johannesburg toe vir werksverpligtinge.
Me. Luus se broer, Gert Joubert (66), het daar gekuier.
Beide bejaardes is met pangas aangeval en mnr. Joubert het later aan kopbeserings in die hospitaal beswyk.
Drie plaaswerkers, Mosambiekers, het kort voor 20:00 na die huis gegaan en gevra vir brandstof vir die kettingsae.
Mnr. Joubert het die deur oopgemaak, waarop hulle hom oorval het.
Mnr. Joubert is oor die kop en nek met die panga gekap en me. Luus is met die platkant van die panga geslaan.
Sy is op ’n stadium ook met ’n glasbak oor die kop geslaan.
