Eenhede werk saam om lyke uit water te haal
Verskeie polisie-eenhede, waaronder Middelburg se duikers, die K9 (honde) eenheid en die berede-eenheid is die afgelope drie dae gevra om te help op die tonele waar persone verdrink het.
Kapt. Carla Hartley (skakelbeampte, Delmas polisie) het bevestig dat die man wat in ’n mynspruit geval en verdrink het, se oorskot vanoggend gekry is.
’n Groep mans het onwettig met honde gejag Sondag in die omgewing van die Delmas Myn se Suidskag en agtergekom een van hul groep is skielik weg.
Hulle het die polisie se hulp ingeroep en gaan wys in watter omgewing hy weggeraak het.
Die duikers van Gauteng het Sondag gehelp soek en het die Mpumalanga (Middelburg duikers) se span het van Maandag af by hulle oorgeneem.
Kapt. Hartley meld dat adj. Andre Smit en sy hond, Zues (Middelburg K9 Soek en Redding), asook lede van die Middelburg berede-eenheid help soek het na die oorskot van die man.
Die K9 eenheid van Lydenburg het ook hulp verleen.
Zues, wat beter bekend staan as ‘adjudant Zues’, het vanoggend ’n aanduiding gegee waar die oorledene kan wees en hy is uit die water gehaal.
Die duikers is vandag ook uitgeroep na ’n toneel op die Delmas/Bronkhorstspruitpad waar ’n voertuig die pad verlaat en in die Bronkhorstspruitrivier beland het.

Kapt. Hartley sê die duikers was nog op pad soontoe, toe die Delmas polisie hulle laat weet dit is nie nodig om te kom nie, aangesien die oorledene in die voertuig gekry is, toe hulle die voertuig uit die water trek.
Die ongeluk het vroeg vanoggend plaasgevind en het die kar neus eerste in die water ingeploeg.
Kapt. Hartley sê dit blyk dat die passasiers by een van die vensters uitgeklouter en gaan hulp soek het.
Die bestuurder van die voertuig is nog in die voertuig gevind toe die kar uitgehaal is. Dit blyk dat hy verdrink het.
