Cartrack en K9-lede kry gekaapte dieseltenkers terug
Met puik samewerking tussen Cartrack en die Middelburg K9 (Honde)-eenheid, is sleepwaens met dieseltenkers wat vanoggend gekaap is, binne ure teruggekry.
’n Trok met twee sleepwaens met vol dieseltenks daarop is vanoggend tussen eMalahleni en Ogies gekaap. Die presiese omstandighede rondom die kaping is nog nie bekend nie.
Die opsporingstelsel is nagegaan en Cartrack se span het kort voor 12:00 vandag die voorste gedeelte opgespoor duskant Blinkpan.
’n Intensiewe ondersoek is geloods en hulle het inligting bekom wat aangedui het dat die twee dieseltenkers aan ’n ander kajuit gehaak en in die Middelburg omgewing is. Daar is verneem dat dit op pad uit is op die Stoffbergpad.
Cartrack het per helikopter in die rigting gevlieg waar die dieseltenkers kon wees en ook die Middelburg K9 lede in kennis gestel.
Sowat twee kilometer verby die ingang van die K9-eenheid, het vyf K9-polisielede die trok gestop en is die bestuurder van die trok gearresteer. Daar is ook ’n seinblok-toestel in sy besit gevind.
•Al die diesel was steeds in die tenkers!
•Dié sukses volg net drie dae nadat die Berede-eenheid op omtrent dieselfde plek ’n voertuig afgetrek en drie verdagtes gearresteer het wat in besit was van spesiaal beskermde Lenatus broodbome.
Die drie verdagtes het reeds in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.
