Polisie bevestig afsterwe van lid van Presidensiële Beskerming in ongeluk
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het in 'n mediaverklaring bevestig dat 'n lid van die Presidensiële Berskermingsdienste vandag in die ongeluk op die N4 tussen Woestalleen en Arnot gesterf het.
Luidens die verklaring is die ongeluk veroorsaak deur ‘n wiel wat gebars het. Die ongeluk het omstreeks 10:30 plaasgevind en het die voertuig in die veld in gerol.
Die Presidensiële Ondersteuningsdiens se konvooi was besig om die adjunkpresident, David (DD) Mabuza vanaf Mpumalanga na Gauteng te vervoer, toe die ongeluk gebeur het.
Die drie lede van die ondersteuningsdiens is aldrie ernstig beseer en is een van die drie op die toneel dood verklaar. Die ander twee is met ernstige beserings hospitaal toe geneem.
Die polisie se Werknemergesondheid en Welstand Eenheid het die familie van die oorledene besoek en in kennis gestel van sy afsterwe.
Die Nasionale Kommissaris van Polisie, genl. Fannie Masemola, het namens die polisie sy meegevoel met die familie, vriende en kollegas van die oorledene betuig.