Honde beland onder trokwiele na taxi-ongeluk
Verskeie beseerde honde het deur ’n geskeurde seil gepeul, na ’n taxi-ongeluk.
’n Geskokte motoris het ook gesien hoe van die honde deur ’n trok doodgery word.
Die gru-toneel het voor me. Elizabeth Spies afgespeel, sowat tien kilometer buite Hendrina, naby die ingang van Pullenshope.
“Die honde het verwilderd heen en weer gehardloop en twee het onder die wiele van trokke beland,” onthou sy die traumatiese gebeure.
Sy, haar ma en dogter was vanaf Carolina, waar hulle by familie op ’n plaas gekuier het, op pad terug na Mokopane (Potgietersrus).
Dit het geweldig gereën en hulle was die derde voertuig agter die taxi.
Me. Spies sê die taxi het ’n oop sleepwa met tralies gesleep, wat met ’n seil toegemaak was.
Sowat 200 m voor die Pullenshope kruising het die sleepwa skielik onstabiel heen en weer begin slinger, waarna dit geknipmes en die taxi gerol het.
Die seil het met die rolslag oopgeskeur en die honde het daardeur ontsnap.
Haar hart wou breek toe sy sien hoe twee van die honde verwilderd oor die pad hardloop en onder trokwiele beland.
Van die ander honde het kruppel in ander rigtings, ook in Pullenshope se rigting, begin hardloop.
“My dogter het begin google vir nommers, want ons ken nie die omgewing nie. Ons het ’n nommer van ’n DBV en hospitale probeer, maar kon niemand in die hande kry nie. Die Hendrina polisie het na die tweede probeerslag geantwoord.”
Binne sekondes het hordes mense by die toneel gestop en het dié wat naby die Pullenshope ingang gestaan en wag het vir bus- en voertuiggeleenthede, ook aangehardloop gekom en die beseerdes uit die taxi gehelp.
“My hart kon dit nie hou nie. Ek is oortuig die honde in die sleepwa is nie die mense in die taxi se honde nie. Daar was baie opreg geteelde honde, met bandjies nog om hulle nekke, wat rondgehardloop het.”
Sy het selfs gesien dat van die honde leerbande om hul nekke het.
“Ek kon nie naby een van die honde kom om te kyk of daar naamplaatjies was nie, want hulle was bang en het weggehardloop.”
Nadat sy seker was al die mense in die taxi is gehelp en dat die polisie sal reël dat die honde ook gevang word, het sy gery.
Tot vandag toe nog wonder sy aan wie die honde behoort.
“Iewers is daar ’n hondema wat wonder wat van haar hondekind of -kinders geword het.”
• Me. Spies sê daar was net groot honde op die sleepwa, waaronder rottweilers, windhonde, kettingboele (bull mastiff) en deense honde (Great Dane).
• Sy het onlangs ’n artikel gelees waar honde agterop ’n bakkie gekry is, wat deel uitgemaak het van ’n sindikaat wat met honde smokkel of hulle gebruik vir gevegte.
• Na wat verneem word is die honde wat gevang kon word, aan die eienaar van die taxi terugbesorg. Daar word egter nog verskeie honde vermis.
• Senior inspekteur Petro Oberholzer (Middelburg DBV) sê hulle het nie ’n oproep gekry Sondag op hul noodnommer nie.
“Ons het eers van die gebeure gehoor toe ons dit op Facebook lees.”
Hulle is dadelik na die area om te gaan soek na die honde. Dinsdag het sy weer gaan rondry om te kyk of daar nie van die honde rondhardloop nie.
• Me. Spies het gemeld dat sy plaasingange langs die pad gesien het en gesê dat die honde moontlik soontoe gehardloop het.
• Snr-insp. Oberholzer sê as enige persoon die honde opmerk, kan hulle die DBV bel by 013 246 1201.
