News

Vrou wil weer vir kinders in Noord-Kaap geskenke bymekaar maak

Die Middelburger wat deur die jaar geskenke vir arm kinders in die Noord-Kaap bymekaar gemaak het, het dit alles onlangs vir die Middelburg SAVF Maatskaplike Dienste geskenk.

Die SAVF Maatskaplike dienste het die groot hoop geskenke saam met ons dorp se skoonhede, Naomi Steenkamp en Amy Gwebu, vir minderbevoorregte kinders tydens ‘n spesiale Kerspartytjie by die Izak Badenhorstsaal uitgedeel.

Amy Gwebu (voor) en Naomi Steenkamp saam met Soretha Oosthuizen.

Me. Soretha Oosthuizen het in Januarie hierdie jaar al geskenke begin bymekaar maak vir kinders in die Noord-Kaap.

Haar man, Willie, het op daardie stadium in Alexanderbaai gewerk.

Tydens een van haar kuiers by hom, het sy gesien hoe baie arm kinders daar is en het sy lekkergoedpakkies vir die kinders uitgedeel.

Sy het egter besluit om vir hulle hierdie Kersfees spesiaal te maak en het begin geskenke bymekaarmaak.

Teen laat hierdie jaar het sy al ‘n vrag geskenke bymekaar gehad, maar het haar man skielik sy werk in die Noord-Kaap verloor.

Haar planne om die geskenke af te vat soontoe is net daar in die wiele gery.

Me. Oosthuizen het egter besluit om steeds kinderharte bly te maak en het die geskenke vir SAVF Maatskaplike Dienste geskenk. Sy het ook die Kerspartytjie bygewoon.

Thapelo Semono(SAVF maatskaplike dienste) saam met Soretha Oosthuizen toe sy die geskenke aan die organisasie geskenk het.

Kort na die partytjie, het hulle die goeie nuus gekry dat haar man weer werk gekry het.

“My hart gaan steeds uit na daardie kinders wat nie speelgoed het nie en sommer met skulpies op die strand speel. Januarie gaan ek weer begin om geskenke vir hulle bymekaar te maak. Volgende jaar kry hulle hulle spesiale Kersfees! Ons gaan afry soontoe en hulle bederf.”

Sy gaan van voor af geskenke bymekaar maak vir seuns en dogters vanaf baba tot 13 jarige ouderdom.

Van klere en skoene tot badkamerbenodigdhede (waslappies, sepies, tandeborsels), DVD’s met kinderverhale, speelgoed, juwele en gesigroompies vir tienerdogters en skryfbehoeftes, kan geskenk word.

Soretha sê mense is welkom om hul eie geskenkpakkies op te maak en toe te draai. Hulle moet net op die pakkie ’n plakker sit om te sê vir watter ouderdom kind en of dit vir ’n seun of dogter is.

Netjiese tweedehandse artikels is ook welkom.

Omdat sy self die geskenke moet toedraai, kan mense geskenkpapier en kleefband skenk, as hulle op dié manier betrokke wil raak. Hulle gaan nie kontant hanteer nie.

As mense onseker is wat om te skenk, kan hulle haar bel en sy sal vir hulle sê wat benodig word.

• Persone wat betrokke wil raak, kan haar bel by 072 272 5337.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button