Gestremde parkering was rede vir tragedie
Gestremde parkering! Dit was die tydbom wat afgetik en geëindig het in die dood van een persoon en miljoene rande se skade aan ’n sakesentrum.

Willie Bester het vandat hy sy horlosiewinkel in Fountain Corner betrek het, ’n stryd gevoer oor parkering.
Hy het ’n verbete stryd begin omdat kliënte op die gestremde parkering by die sentrum gestop het.
Die Middelburg Observer is by die vete betrek wat daaroor berig het.
Die koerant se joernaliste is later so geteister dat kommunikasie met Bester gestaak is.
Daar is wel ’n persoonlike boodskap aan Bester gestuur dat ons graag wil help en indien daar ander onderliggende redes vir sy ongelukkigheid is, die koerant ook bereid sou wees om hom by te staan.
Ons is egter afgejak.
Nadat ons die kompleks bestuurder, Petru Venter, genader het oor die parkeerprobleem is ’n groot geel teken in die parkeerterrein aangebring vir gestremde kliënte.
Bester was steeds nie tevrede nie en het die koerant by die persadvokaat gaan verkla, wat bevind het daar is geen meriete in die klag nie.
Nadat ’n laaisone vir Azalea Bloemiste in die parkeerterrein geverf is het Bester sy voertuig daar gestop.
Huurders in die sentrum is so geteister dat die eienaars van Jud’sies, Kappie en Judy-May Kapp, ’n beskermingsbevel teen Bester verkry het.
Die vete oor die gestremde parkering is nooit opgelos nie, met kliënte wat onwettig daar parkeer het, tot groot onsteltenis van Bester.
Hy het advokaat Gerhard Botha genader om hom by te staan.
Petrolbomme gegooi, skote klap, een sterf by Fountain Corner
Advokaat Botha het tien minute voordat Bester sy lewe geneem het, nog met hom gepraat.
•Intussen word De Wet Loots as een van die groot helde in Donderdagaand se tragedie beskou, nadat hy Bester se brandende voertuig koel en kalm geblus het, voordat die petroltenk kon ontplof.