Afriforum rig visier op staatsregslui weens “apatie teen misdaad”
Afriforum Groblersdal en Groblersdal Landelike Veiligheid het vanoggend voor die Groblersdal Landdroshof betoog teen borg vir Victor Tebogo Seroka (34), wat verbind word met ’n plaasaanval in Desember.
Seroka se borgaansoek kon nog nie begin nie, omdat hy hospitaal toe vervoer is.
Dit is egter onduidelik wat die aard van sy ongesteldheid is, omdat die hof nog nie sit nie.
Beurtkrag het ook om 11:00 begin, wat waarskynlik daartoe sal lei dat die saak uitgestel word tot ’n later datum.
Afriforum het intussen ’n memorandum aan distriksaanklaer, Billy Mudhavi, oorhandig.
In die memorandum beskuldig Afriforum staatsaanklaers en landdroste van die Groblersdal Landdroshof daarvan dat hulle nie hul werk ernstig opneem nie.
Volgens die skrywe is “inwoners en besigheidslui baie besorg “oor die apatiese houding van landdroste en staatsaanklaers teen stygende misdaad”.
“Inwoners staan verstom oor die swak besluite wat soms deur die howe, en derhalwe staatslui, gemaak word, en intussen bly misdaad styg,” lui die memorandum.
Afriforum sê dat hy reeds honderde opdragte van inwoners gekry het om namens hulle kapsie te maak teen oneffektiewe howe.
Afriforum dring nou daarop aan dat ’n gemeenskapsvergadering gehou word, waar landdroste en staatsaanklaers verteenwoordig is.
Die vergadering moet binne twee maande plaasvind.
Daar sal van landdroste en staatsaanklaers verwag word om ’n aksieplan op te stel, oor hoe die howe hul konstitusionele mandate sal aanwend om misdaad te bekamp.
