Roosmarie vry na 16-dae agter tralies vir luidspreker
Roosmarie van Staden is tydens haar tweede hofverskyning op een klag van diefstal skuldig bevind.
Sy het 16 dae in die tronk deurgebring vir die diefstal van ’n luidspreker en is ’n boete van R1500 en drie jaar gevangenisstraf opgelê, wat beide opgeskort is vir drie jaar.
Hoewel talle ander klaers na vore gekom het, met bewerings dat sy Juanita du Plessis kaartjies verkoop het vir ’n vertoning wat nooit sou plaasvind nie, is die klagtes teen haar laat vaar vir vonnisdoeleindes.
Roosmarie is op 11 Januarie in Bothaville gearresteer op ’n uitstaande lasbrief vir diefstal.
Lees ook: Vrou vas wat glo vals Juanita du Plessis kaartjies verkoop
Sy het tydens haar eerste hofverskyning op 12 Januarie reeds op dié klag skuldig gepleit, sê Roosmarie wat Woensdag ’n openhartige onderhoud met die Middelburg Observer gehad het.
Sy bevind haar nou in Boksburg waar sy ’n vaste werk, en blyplek gekry het.
Roosmarie sê dat sy skuldig gepleit het “omdat ek skuldig is”.
Sy sê dat sy baie ondersteuning in die tronk gehad het, en daar baie geleer het oor hoe om voortaan “slagysters te vermy, en ’n eerlike lewe te lei.”
“Aan dié wat ek tenagekom het, wil ek uit my hart uit jammer sê, ek het my les geleer”.
Lees ook: Roosmarie in tronk, sal moet leen vir R2000 borg
Volgens haar het sy die luidspreker gehuur, maar nooit terug besorg nie.
Sy wou ’n afbetalingsooreenkoms met die eienaar sluit, maar hy was nie hiervoor te vinde nie.
Roosmarie sê sy wil haar lewe “nuut afskop”.
Sy sê sy weet baie mense is kwaad vir haar, maar dat sy niemand skade wou berokken nie.
“Ek het eindelaaste net myself skade aangedoen op die afwaarste spiraal waarop ek was, ek het geld gevat terwyl ek nie moes nie,” sê sy oor verskeie lenings wat sy nooit terug betaal het nie.
“Daar was wel ’n handvol mense wat by my gestaan het en verstaan waarom ek gedoen het wat ek gedoen het, Dankie!”.
Die Observer kon haar die week eers opspoor, nadat haar broer haar foon aan haar terugbesorg het.
