Vuil verwaarloos, soekend na volgende spuit
Hulle sterf op sypaadjies en openbare toilette, hulle bedel én hulle steel.
Middelburg sit met ’n dwelmkrisis en ’n leser, Mariétte Buys, het haar mening daaroor gegee.
Sy skryf:
Uit my hart, dis hoe ek voel.
Ons is in ons motors, dan sien ons hulle bedel langs die pad. Van stopstraat tot verkeerslig, oral kom hulle uit.
Party openlik, ander huiwerig maar hulle kom. Sommiges is skaam, ander is verby daardie punt.
Hulle skroom nie om jou te vloek as jy niks gee nie. Jy vermy oogkontak.
Sommige interpreteer ’n kopskud as “nee”, ander hou aan selfs nadat jy jou venster toegedraai het.
Ons lees die aanmerkings op koerante se plasings, op sosiale media rakende boemelaars en dwelmverslaafdes by verkeersligte.
Daar is twee groepe mense, die wat simpatiek gesind is en die ander groep.
Dis te verstane, baie het al probeer help en hul vingers verbrand terwyl dit vir ander bloot ’n irritasie is.
Elkeen wat op daardie straathoek staan, het ’n storie, ’n rede waarom hy daar is. Dit maak my benoud wanneer ek dink aan die oordeel wat sommiges uitspreek. Hoewel ons nie almal dwelmslawe is nie, doen ons dalk iets anders wat sosiaal onaanvaarbaar is.
Ken ons die lewensverhaal van daardie man by die verkeerslig? Waar het hy homself, sy menswees en sy vertroue in die samelewing verloor?

Geen mens staan net een oggend op en besluit hy gaan vandag dwelms begin gebruik nie. Onopgeloste emosies, sosiale druk, die verkeerde vriende by wie hy die aanvaarding gekry het wat hy dalk nie in ’n gesin gekry het nie, is moontlik van die redes.
En ja, ouers sal sê hulle gee alles vir hulle kinders en doen alles.
Ek stem, maar hoeveel ouers kom uit gebroke huise, hoeveel ouers moes hulle seer alleen dra sonder iemand om hulle by te staan en te help. Ons dra ons eie onsekerhede en hartseer aan ons kinders oor.
Kom daardie boemelaar uit ’n stabiele huis of is hy reeds vroeg in sy lewe deur moeilike huislike omstandighede geknak?
Was hy dalk genoodsaak om sy pad oop te baklei om aanvaar te word? Het hy ooit bystand gehad?

Baie mense reik uit, maar verloor belangstelling as daar nie vinnige resultate is nie. Hulle trek hulle skouers op en beweeg aan. Dit is ’n verlore saak.
Min mense is vandag bereid om die pad saam met iemand tot die dood toe te stap. Is dit nie wat Jesus van ons verwag nie?
Hoe gou gee ons nie moed op nie. Ek wonder hoeveel van ons die ewige lewe sou kon beërwe as Jesus met ons sou moed opgee.
Daardie boemelaar/dwelmslaaf het niemand nie en is ook daar deur sy eie toedoen en verkeerde keuses.
Maar wees versigtig om te oordeel. want ons het nie die pad saam met hom geloop nie. Jy ken nie sy storie nie, jy ken nie sy verlede nie, jy ken nie sy hoekoms en waaroms nie.
Sy volgende spuit is sy beste vriend. want dan vergeet hy die hartseer, die pyn, die verlede.
Dit is makliker om te oordeel, om oor hulle te praat en ons self te distansieer, eerder as om ’n pad saam met hulle te stap.
Voorkoming is beter as genesing. Hoe lyk die fondamente (liefde, aanvaarding, stabiliteit, emosionele bystand) waarop ons ons kinders se toekoms bou?
Die oplossing lê nie by debat oor die boemelaars en dwelmslawe nie, dit lê eerder in elkeen van ons se huise om daardie fondamente met onvoorwaardelike liefde vir ons kinders en vir mekaar reg te kry.
Dit is ons as ouers se plig om ons kinders te leer en hulle met die nodige insig, kennis en wysheid groot te maak sodat hulle self in staat sal wees om die daaglikse slaggate te sien en met selfvertroue te vermy.
Ons ken nie die boemelaar en dwelmverslaafde se storie nie. Ondersoek jou hart, dink voor jy oordeel en mag Jesus ons die liefde en empatie gee om dit nie te doen nie, maar om eerder vir daardie vuil boemelaar en dwelmverslaafde te bid.
“There but for the grace of God go I.”
•’n Boodskap van hoop om mense bewus te maak van die dwelmprobleme en bendes word op 1 April vanaf 09:00-14:00 by Olifants River Lodge aangebied.
Die bekende skrywer en joernalis, Carla van der Spuy bied saam met Mariètte Buys (van 3:16 Ministries) hierdie spesiale geleentheid aan. Meer inligting verskyn in hierdie week se uitgawe van die Middelburg Observer.
