‘Polisiemanne’ het pa en seun gekaap
’n Man sê hy het “hoendervleis gekry” toe hy die berig lees van me. Elani Wilkens wat Vrydagaand met drie kinders in haar voertuig gekaap is.
“Dit is presies soos wat dit met my en my seun, Stiaan, ’n jaar terug gebeur het! Ek is oortuig dit is dieselfde groep!” het mnr. Tiaan van der Merwe uitgeroep.
Vriende van me. Wilkens ken mnr. Van der Merwe en het hom van die berig op die Middelburg Observer se webtuiste vertel.
Die oomblik toe hy dit lees, het hy die kaping op 6 Maart 2022 herleef.
Hy onthou dat hulle omstreeks 21:00 vanaf die OR Tambo Lughawe gery het in eMalahleni se rigting.
Naby die Springs afrit, het ’n voertuig langs hom inbeweeg en insittendes het by die kar ingekyk.
“Ek het nog vir Stiaan gesê, ‘ek wonder wat soek hulle.” Hulle het egter weer stadiger gery en uit sig verdwyn. Ek vermoed hulle was die spotters vir die latere kaping.”
Stiaan was op daardie stadium 16 jaar oud en mnr. Van der Merwe het redelik vinnig gery, omdat dit al laat in die aand was en Stiaan moes skooltoe die volgende dag.
Tussen die eerste Delmas afrit en Red Star Racing, het hy skielik blou ligte agter hom gesien. “Ek dink hulle het iewers op ’n afrit vir ons gesit en wag.”
Mnr. Van der Merwe het erg geskrik, want hy het besef hy het die spoedgrens ver oorskry.
“Ek het vir Stiaan gesê hulle gaan my vanaand toesluit, ons sal moet mooi praat…en ek het gestop.”
Mnr. Van der Merwe het sy venster afgedraai en dadelik begin mooipraat.
“Die polisieman was in vol uniform en het ’n polisiemasker gedra. Die wat die polisie kenteken ophet. Hy het my nog uitgetrap omdat ek so vinnig gery het.”
Terwyl die man met hom praat, het mnr. Van der Merwe opgemerk dat twee ander “polisiemanne” na sy Toyota Land Cruiser se lisensieskyf kyk.
Alles het hierna vinnig gebeur.
Een van die mans aan die passasierskant het vir Stiaan geskree om die deur oop te maak, want hulle wil die kar deursoek vir dwelms.
Terwyl sy aandag by sy seun en die skreeuende “polisieman” was, het die man aan die bestuurderskant se hand vinnig deur die venster geskiet en hy het die kar van binne af oopgesluit.
Mnr. Van der Merwe het probeer om sy kar in rat te sit om weg te jaag, maar die kaper aan sy seun se kant het bo-op sy kind geklim, met mnr. Van der Merwe gestoei en vir sy makker geskree: “shoot him!”
Die volgende oomblik het ’n skoot geklap. Mnr. Van der Merwe het nie geweet in watter rigting daar geskiet is nie, maar hy het aan sy seun se veiligheid gedink en ophou baklei.
’n Rower het agter hom ingeklim en met sy arm om mnr. Van der Merwe se nek, probeer om hom van agter af tussen die sitplekke in te trek.
Mnr. Van der Merwe het vir hom probeer sê dat sy sitplekgordel vas is en dit die rede is hoekom hy hom nie agtertoe getrek kan kry nie.
Dit het die ander rower by sy seun aggressief gemaak en mnr. Van der Merwe is in die gesig geslaan. Sy neus het dadelik begin bloei.
As hy terugdink aan die gebeure, onthou hy hartseer hoe verward Stiaan op daardie stadium gelyk het.
Die rowers het sy hande vasgemaak met kabelbinders, maar met die gesukkel om agter in te kom, moes hulle dit vir eers lossny.
Sy hande is egter weer met kabelbinders vasgemaak en hy is gedwing om op die agterste sitplek te gaan lê, met sy kop naby die deur.
Stiaan is aangesê om uit te klim en agter by sy pa in te klim. Sy hande is ook vasgemaak en hy is aangesê om bo-op sy pa te gaan lê.
Mnr. Van der Merwe het sy hande opgelig, sodat sy seun gemakliker half in sy arm kon lê.
Nadat Stiaan gedwing is om op sy pa te gaan lê, het een van die rowers bo-op die seun gaan sit.
“Ons het later op die opsporingstelsel gesien dat die gebeure op die N12 waar ons gestop en gekaap is, vier minute geduur het.”
Die kar het omgedraai en hulle het terug gery in Johannesburg se rigting.
Terwyl hulle gery het, het die drie in die kar die hele tyd geskree hulle soek die bankkaarte en selfone se pinkodes.
Mnr. Van der Merwe is ook met iets, hy vermoed ’n 9mm pistool se loop, aangerand, omdat hulle gesukkel het met ’n rugsakkie om by kontant uit te kom. Die sakkie is eintlik vir ’n wapen, maar hy het nie die wapen saamgevat nie, aangesien hulle gevlieg het.
Hy het aan hulle probeer verduidelik hoe die sakkie werk, maar hulle was baie geïrriteerd en het hom kort-kort aangerand.
Hulle het ook mnr. Van der Merwe se goue hangertjie met kruis, wat aan sy oorlede pa behoort het, só hard van sy nek afgeruk, dat dit gebreek het. Sy horlosiebandjie is ook gebreek met die afrukslag.
Terwyl hulle gery het, het mnr. Van der Merwe agtergekom dat die een rower, wat bo-op Stiaan gesit het, nie so aggressief soos die ander was nie.
Die rower het sy seun se beursie uit sy sak gehaal, gevat wat hy wou en dit weer, met sy kaarte nog daarin, in Stiaan se sak gedruk.
“Anderkant Carnaval City, in Kathlehong se rigting, het hulle met ons in die veld in gery. Hulle wou weet van watter opsporingsmaatskappy ek gebruik maak.”
Die manier wat hulle pa en seun laat uitklim en laat lê het met hul gesigte na onder met hul hande bokant hul koppe, het mnr. Van der Merwe laat glo “dat dit nou die einde is. Ek het in my kop begin vrede maak dat ek geskiet kan word.”
Hy het aanvanklik beskermend bo-op Stiaan gaan lê met die gedagte, dat indien hy doodgeskiet sou word, Stiaan kon oorleef.
“Die een wat minder aggressief was, het in Engels vir my gesê dat Stiaan ongemaklik lê en dat ek langs hom moet gaan lê. Hy het ook beloof dat hy ons nie sal seermaak nie.”
Terwyl hulle daar gelê het en gehoor het hoe die ander twee rowers die kar deursoek en gedeeltes breek om by die opsporingstelsel uit te kom, het Stiaan baie bang geword.
“Ek het vir hom gesê: ‘my seun, kalmeer, ons moet net bid.”
Stiaan het op hierdie tydstip by die rower gepleit om sy hande ’n bietjie losser te maak, want sy vingers gaan dood.
Die rower, wat ook sy beursie teruggesit het in sy sak, het Stiaan se hande losgesny en vir hom ’n nuwe kabelbinder om sy hande gesit, wat nie so styf was nie.
Terwyl die rower daarmee besig was, het mnr. Van der Merwe sy kop effens na regs gedraai en gesien dat een van die rowers op sy voertuig se dak staan, soos ’n uitkykpunt, terwyl sy makker die kar deursoek vir die opsporingstelsel.
Die rower by hulle het met sy knie op mnr. Van der Merwe se rug gedruk en met iets, waarskynlik die wapen se loop teen sy kop, gesê hy moet sy iFone se pinkode gee, maar mnr. Van der Merwe het vir hom gesê hulle moet dit eerder afsit, want mense sal hulle kan opspoor daarmee.
Dit het skielik stil geraak en hy het besef hulle het die opsporingstelsel gevind.
Pa en seun is gedwing om weer op te staan en ’n ent verder moes hulle op hul knieë gaan sit.
Dié keer moes hulle met hul hande op hul koppe staan.
Daar is vir hulle gesê dat twee van hulle gaan ry met die voertuig en as hulle gejok het oor die pinkodes van die bankkaarte, gaan die een wat agterbly hulle doodskiet.
Die rower wat kwansuis moes agterbly, het gesê hy gaan ’n entjie wegstaan van hulle af, want hy is bang hulle oorrompel hom.
Die volgende oomblik het hulle gehoor hoe die voertuig wegry.
Hulle het binne ’n kort tydjie besef dat ál die rowers saam gery het.
Mnr. Van der Merwe sê dat hy eenkeer op televisie gesien het, hoe jy jou hande moet draai, om uit die kabelbinders te kom.
“Die velle het gewaai, maar ek het my hande losgekry en ook vir Stiaan losgemaak.”
Die twee was bang die rowers kom weer terug en hulle het in die teenoorgestelde rigting begin hardloop.
In die verte het hulle liggies sien brand en het soontoe gehardloop. Dit was in ’n voorstad van Kathlehong.
’n Skok het op hulle gewag.
By ten minste vier huise waar hulle aangeklop het vir hulp, is hulle weg gejaag en gevloek.
By die vyfde huis het ’n man hulle vinnig laat inkom. “Hy het vir ons gesê die ander mense sal ons doodmaak as hulle ons alleen in die strate kry.”
Die man en vrou het hulle in die sitkamer laat sit, waar die vrou ’n kombers om Stiaan se skouers gehang het. Sy het ook vir hulle koeldrank gegee.
’n Ouerige selfoon is vir hulle gegee, “en nie my vrou of vennoot het aanvanklik geantwoord nie, omdat dit ’n vreemde nommer was. Ek moes vir my vennoot naderhand ’n SMS stuur om vir hom te sê dat dit ek is wat hulle bel.”
Mnr. Van der Merwe het sy vennoot gevra om al die bankkaarte wat die rowers gevat het, te stop en hy het vir hulle met ’n pinplek aangedui waar hulle is.
Uit vrees dat die rowers polisiemanne was, het hy geweier om Delmas Polisie toe te gaan.
Hy het ’n verklaring by die Middelburg Polisie afgelê en die dossier is oorgeplaas na die Delmas Polisiestasie.
“Drie weke later het die polisie laat weet dat hulle al die leidrade opgevolg het en dat die saak afgesluit is.”
• Persone wat die volgende dag die area besoek het waar mnr. Van der Merwe en sy seun aangehou is, het ’n sekuriteitswag raakgeloop.
Hy dra ’n skerp voorwerp saam met hom om kabelbinders los te sny, omdat hulle al so baie mense daar gekry het wat gekaap en in die veld gelos is met hul hande wat vasgemaak is met kabelbinders.
• Soos me. Wilkens, wil mnr. Van der Merwe raad gee vir mense om nie slagoffers te word van “die blouligbende” nie.
• Hy meld dat mense nie die spoedgrens moet oorskry en so die bende se aandag trek nie.
• “Maak staat op die element of surprise. Verminder spoed tot vyf kilometer per uur en hou aan ry met jou noodligte aan, om te wys jy het hulle gesien. Op daardie tydstip begin jy almal bel vir hulp. As hulle op jou begin skiet of probeer afdwing, het jy darem al hulp ontbied en het jy nog die voertuig tussen jou en hulle.”
• Mnr. Van der Merwe sê hy vertel sy verhaal so ver as wat hy gaan, om mense te waarsku.
