News

Dwelmsmouse sal nie ophou voor tronkdeure toeklap of kisdeksel toesak

Dwelms het Dawie Nel en sy familie se lewe verwoes.

Die boorling van Upington, en jarelange inwoner van Middelburg, se pa en broer het die week in ’n openhartige onderhoud met die Middelburg Observer gesê dat daar talle onbeantwoorde vrae is rondom die moordklag wat Dawie in die gesig staar.

Of die vrae ooit beantwoord sal word, hang daarvan af of Dawie se geheue rondom die gebeure ooit sal terugkom.

Die slagoffer, ’n Taiwanese “vrou,” wat die Nelle bloot geken het as Anne, was na bewering ’n man wat ’n geslagsverandering ondergaan het.

Wat die Nelle wel weet, is dat Anne ’n ontkleedanser was, en ook as gesellin gewerk het.
Sy het glo ook opgetree as Nel se dwelmverskaffer.

’n Platgeslane Tobie Nel, Dawie se broer, sê dat Dawie se lewe inderwaarheid die afgelope paar jaar “op die rantjie van die afgrond was”.
Tobie sê dat die familie hom gekasty het vir sy “harde oordeel” van sy broer, omdat hulle nooit die erns van verslawing besef het nie.

Dawie is vir ’n tydlank na sy ouerhuis, na ’n ernstige motorfietsongeluk, waarna dinge drasties verbeter het, omdat hy in die hospitaal en tuis van dwelms gespeen is.
Hy het sy ouers egter na twee weke oortuig dat hy reg is om weer terug te gaan huis toe.

Tobie vertel, toe hy dit ’n dag later uitvind, “’n kwelling in my siel,” hom na Dawie se huis in Meyerspark, Pretoria, gelei het.
Die hek was met ’n ketting en slot gegrendel en Tobie het oorgeklim.

Hy sê “die gang was vol boustellasies, deel van die ewige bouery wat daar aan die gang was.”
Met groot moeite het Tobie dit eindelaaste tot by die hoofslaapkamer van die huis gemaak.

“Wat ek gesien het, het my van my sinne beroof.”

Tobie sê dat hy in die kamer afgekom het op Dawie met ’n metamfetamien-pyp in die hande.

Lees ook:

Oud Puma rugbyspeler wag vir verhoordatum

“Ek het uit die huis gestorm en naar geword van skok. Ek kon dit nie daar los nie. Ek kon Anne daar weg kry met ’n uber. Later die aand het ek my broer so fisiek rondgeruk en gegooi op sy plaveisel, dat die buurman die polisie ontbied het.”

Die polisie was self so oorbluf oor die dwelmmisbruik, dat hulle vir my gesê het om Dawie “reg te moker,” sê Tobie, wat bylas dat hy nie aan Dawie geslaan het nie, uit vrees dat die woede wat hy op daardie stadium gevoel het, “my nie sou laat stop nie.”

“Dis die hartseerste gevoel wat ek nog in my lewe gehad het toe ek wakker word op sy bank.”
“Hy het telkens sy verslawing afgemaak as bloot daggarokery.”

Dawie het drie maande voor die Desember 2020 moord, nog hard gewerk aan sy besigheid wat ’n oplewing begin toon het, maar kristal metamfetamien was nog nie klaar met hom nie.
Hy het sy verslawing hervat, wat net op een plek kon eindig – die tronk.

Tobie sê hulle soek nie simpatie by die gemeenskap waarvan hulle soveel dekadeslank deel is nie.

“Ek wil vir Middelburg van die dakke af skree dat metamfetamien en heroïen lewens verwoes, ons is verslae, maar sal vir Dawie nie versaak nie.”

Tobie sê dat Dawie “gesond” lyk tydens besoeke in die tronk, “maar hy wil daar uit, dis nie waar ek my broer wil hê nie, die dwelmhandelaars moet daar sit, hulle het my broer vernietig.”
Oor die beweerde moord self sê Tobie dat Dawie sy kop voos dink oor wat gebeur het.

’n Huismaat van Dawie het die betrokke dag in Desember 2020, blykbaar by sy kamer ingestap en Dawie bewusteloos langs “Anne” se lyk aangetref.
Die polisie is toe ontbied.

Dawie was erg deurmekaar toe hulle hom eindelik kon wakker kry.

Vriende van Nel staan ook bankvas agter hom – “Dis nie wie hy is nie!” eggo hul sentimente.

Die ander vraag is, of Dawie hopeloos na dwelms gedraai het weens pyn weens die motorfietsongeluk.
Hy sukkel steeds met die gebruik van sy een arm.

Voor die ongeluk is hy ook, by ’n verkeerslig in die stad deur grypdiewe aangeval, waartydens sy een long met ’n skroewedraaier deurboor is.

’n Stuk van sy neusvleuel is ook tydens die aanval met ’n mes afgesny, en nooit sjirurgies herstel nie, wat Dawie se selfbeeld nadelig beïnvloed het.

“Die dwaalspoor het nie oornag gebeur nie, die aanloop was lank en hard, ons harte is gebreek,” sê Tobie wat byvoeg dat hy vantevore met ’n ander aangetroude familielid dieselfde pad gestap het.

In daardie geval, is die betrokke familielid se onskuldige landheer ernstig aangerand wees dwelmskuld.

“Dalk het dit my oë ’n bietjie groter laat oopgaan as die res van my familie, die dade wat dwelmslawe pleeg is onverklaarbaar, dit verander mense in monsters en niemand word so gebore nie,” sê Tobie.

Die langpad het nog myle wat vir die Nelle voorlê met Dawie se hofsaak wat Maandag na die hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas is.

Dawie is vir sielkundige waarneming gestuur na die voorval, om te bepaal of hy toerekeningsvatbaar was tydens die beweerde moord.
Hy sit ook al bykans drie jaar agter tralies sonder borg.

Sy nuwe prokureur het intussen ’n nuwe aansoek om borgtog ingedien met ’n appèl.

Weens die sloer van die saak het Dawie ook elke sent wat hy gehad het op prokureurskostes betaal, en is ’n staatsadvokaat intussen aangestel.

“Dawie is nie die eerste, of die laaste wat deur dwelms verwoes is nie, ek pleit by inwoners om wakker te skrik en te besef dat ons seuns, broers, pa’s geteiken word deur dwelmsmouse wat nie sal stop voor die tronkdeure agter jou toeklap, of die kisdeksel op jou toesak nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button