Naskokke van aardbewing tot hier gevoel
Mense in Middelburg gewek deur Gautengse aardbewing se naskokke.
Die naskokke van ‘n aardbewing in Gauteng is vanoggend vroeg tot in Middelburg gevoel.
Verskeie Middelburgers het op WhatsApp groepe gevra of mense ook die aardbewing gevoel het.
Me. Saloysa Mostert was een van die eerstes wat om 02:40 vanoggend op die Dagpatrollie WhatsApp groep gevra het of mense “die aardbewing gevoel het.”
Daarna het verskeie mense laat weet dat hulle dit ook gevoel het. ‘n Paar het gedink dat ‘n myn moontlik die sondebok kon wees, omdat hul vensters geratel het.
Mnr. Dewald Lubbe het ook gewonder of dit net hy was wat die skokke gevoel het. “Ek was te bang om te vra, gedog ek het my verbeel!”
Op die Citizen Nuus webtuiste is berig dat groot gedeeltes van Gauteng om 02:38 deur die aardbewing geraak is.
Lees artikel hier:
https://www.citizen.co.za/news/powerful-tremor-hits-large-parts-of-gauteng/
Volgens die artikel is mense van regoor Gauteng gewek met die skudding wat omtrent 5 op die Richterskaal gehaal het.
Regional Weather Service Gauteng het die besonderhede van die aardbewing op Twitter gedeel waar gesê is dat die bewing, wat geskat is op 4.5, oor groot gedeeltes van Gauteng gevoel is.
Dit is die ergste gevoel in Alberton en Boksburg (Oosrand).
Die USGS (US Geological Survey) sê die bewing was 5.0 op die Rchterskaal (sowat 10km onder die aarde).
Lees meer hier:
https://earthquake.usgs.gov/earthquakes/eventpage/us7000k7q8/executive
Daar is aanvanklik op sosiale media genoem dat daar nie enige skade aangemeld is nie, maar vriende van Middelburgers het uit Boksburg en ander areas in Gauteng laat weet dat van hul huise gekraak en vensters gebreek het. Daar is ook foto’s rondgestuur van bakstene wat uit geboue geval het.
