Dennis was ’n inspirasie vir miljoene
Familie en vriende van Dennis Postma en Chanelle Nigrini was hierdie week nog in skok, nadat beide in ’n ongeluk net buite Rayton gesterf het.

Dennis en die Nigrini-gesin was op pad na Chanelle en Henro se huis in Cullinan waar hulle rugby sou gaan kyk.
Dit is nog nie duidelik wat presies tydens die ongeluk gebeur het nie, maar drie voertuie was betrokke.
Dennis en Chanelle is opslag dood.

Die Nigrini-kinders, Mia (10) en Aiden, was laat hierdie week nog in die Unitas Hospitaal, waar Aiden vir ’n gebreekte enkel en pelvisbesering en Mia vir ’n oop wond bo haar oog en glas in haar ogies en oogbank, behandel word.
Henro het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Gerben van der Merwe, wat goed bevriend is met beide gesinne, sê Henro se voertuig het later aangedui dat hy 62km/p/h gery het ten tyde van die ongeluk.
Hy was self op die ongelukstoneel en het al die persoonlike artikels van almal bymekaar gemaak om dit vir die families te gee.
Hy sê niks sal ooit weer dieselfde wees vir hulle as vriende nie, “maar ons moet aanvaar die Vader het ’n groter plan.”
Gerben het uit ’n plasing wat op Facebook gemaak is na hul dood, dié woorde aangehaal: “Life goes on, not the same, but it goes on.”
Dennis se ma, Telita Pienaar, het Dennis haar “inspirasie-kind” genoem en het vertel hoe hy kanker vyf keer oorwin het.
Brett Mathews, Dennis se beste vriend, sê hy het Dennis in 2015 leer ken.
Dennis, wat reeds boog geskiet het met sy mond, het gesê hy wil graag aan kompetisies deelneem en hulle het saam begin skiet.
“Op ’n stadium het Dennis die nasionale rekord gehou in sy klas.”
Brett was ’n ruk in Amerika en met sy terugkeer het hulle besluit om weer te begin kompetisie-skiet.
Met hul eerste groot kompetisie sowat ’n jaar en ’n half gelede, het Dennis gewen en Brett was tweede.

“Van daar af het ons hard geoefen om ons Protea kleure te kry. Shaun Anderson was sy mentor.”
“Ek het nog die naweek, net voor die ongeluk, vir hom gevra of hy gaan oefen vir dié kompetisie, wat op 3 November gehou word. Hy het gesê hy gaan na Hanro hulle toe.”
Hy onthou hoe Dennis gereeld by hom op die plaas in Marble Hall kom kuier het en hoe hulle graag saam gejag het.
“Dennis wou nooit gewone bokke skiet nie. Hy het altyd daardie spesiale trofee gesoek. ’n Bok met net een horing, of skewe horings. Ons het ure en dae saam in die veld deurgebring.”
Brett vertel dat daar nie baie mense is wat weet dat hy met sy mond boogjag gedoen het en die boog op ’n ongelooflike 65 pond kon trek met sy mond nie.
Volgens Brett het Dennis graag TikTok-videos gemaak en begin met ’n podcast oor alle aspekte van jag, “veral die etiese aspekte daarvan en hoe jou lewe verander as jy eties is.”
Dennis se positiewe denkwyse sal hom altyd bybly.
“Daar was nieiemand soos Dennis nie. Niks kon hom wen nie en wat my die meeste optel in hierdie tyd, is Dennis se woorde: “As die pyl geskiet is, is dit verby. Jy kan dit nie terugtrek nie. Vergeet die vorige en konsentreer op die volgende. Dennis was ’n inspirasie vir miljoene.”
Brett het genoem dat Dennis ’n besondere lewensverhaal oor homself geskryf het met die naam: “One Arm Legend”, wat opsom watter besondere mens hy was.
Die skakel na sy lewensverhaal kan hier gesien word.
• Dennis het vir Magnum Archery boog geskiet.
• Chanelle word deur vriende en familie onthou as ’n saggeaarde vrou, wat haar gesin bo alles gestel het.
• Chanelle se roudiens is Saterdag om 10:00 uit die NG Kerk in Cullinan en Dennis se roudies is Saterdag om 10:00 uit die Gererformeerde Kerk, Moedergemeente.