News

Die land is aan die brand: Sportmanne en vroue al meer beroof, verkrag, vermoor

Die sportgemeenskap is geruk deur ’n vlaag geweldadige misdade.

Sportmanne en vroue loop landwyd deur onder ’n golf misdaad wat die week gelei het tot die vertrek van die Britse ultraveldhardloper Tom Evans uit Suid- Afrika weens veiligheidsvrese, nadat hy verlede Donderdag in die Tafelberg Natuurreservaat met ’n mes teen die keel van sy trouring, Garmin-horlosie en slimfoon beroof is.

Hoewel die twee boewe met messe gedreig het om Evans se ringvinger af te sny, is hy eindelaaste ongeskonde vort, terwyl die plaaslike fietsryer Yvonne Swanepoel (42) Saterdag mediese behandeling vir ’n steekwond aan die bors moes ontvang, nadat sy en ’n vriendin Liesl Meyer (49), by die Tarriesbaan in Aerorand oorval is.

Vroue fietsryers vertel: “Só is ons met messe aangeval”

Die Middelburg Observer het onlangs saam met Cobus Fourie gaan ondesoek instel by die Tarriesbaan waar daar afgekom is op talle bosslapers en dwelmslawe al langs die fietsroete.
Een van die verslaafdes wat reg langs die Tarriesbaan onder ’n kartondoos sy roes lê en afslaap het, het bloot gesê “gaan kyk vir die fietse by Irak taxistaanplek.”

Die Tarries-aanval Saterdag is een van talle wat al op die baan plaasgevind het, met twee tiener broers van 13 en 19 jaar oud wat in Oktober aangerand en van hul fietse beroof is.
Die jonger broer is in sy maag van sy fiets af geskop deur een van drie rowers.

Seuns op Sondag fietsrit aangerand, van fietse beroof

Die probleem het die ontstaan van landwye WhatsApp-veiligheidsgroepe vir sportmanne tot gevolg gehad, waar misdaadvoorvalle aangemeld, en brandkolle geïdentifiseer word.

Op ’n WhatsApp van ’n fietsrygroep wat uitgestuur is, laat weet administrateurs: “Dit was bedrywig die naweek met fietskapings. Twee van die vier voorvalle was in die Pretoria-Oos en Bronkhorstspruit area. Die ander twee was in die area rondom die LZ township tussen die R21 en Red Barn.”

Die groep waarsku dan dat groepe van tot 12 fietsryers die afgelope twee weke aangeval is, so selfs groepe is nie meer veilig nie.

Die volgende roetes is as brandkolle uitgewys: R21 St George’s, M18 van en na Red Barn, rondom die M57 en R21 en die Moonlight-pad aansluiting. Al die roetes is in Gauteng.

Op nog ’n WhatsApp-groep sê ’n gesondheidswerker genaamd “Oratilwe” dat daar ’n skrikwekkende toename in ongevalle pasiënte by ’n Gautengse hospitaal was, met een pasiënt wat in die bors gesteek is, en ’n tweede wat geskiet is in die been en voet.

Beide se fietse is in die aanvalle gesteel.

Oratilwe sê dat die meeste pasiënte rondom die Midstream Landgoed aangeval word, selfs gedurende die dag met die skietvoorval wat net na 12:00 die middag plaasgevind het.

Intussen het die Sandtonse Sportklub ook aangekondig dat geen byeenkomste meer aangebied sal word nie, na die moord op die onderwyseres Kirsten Kluyts (34) op 29 Oktober na ’n MyRun pretdraf by die Johannesburgse botaniese tuine.

Sy is ook verkrag. Haar liggaam is langs ’n drafpaadjie in die George Lea park gevind.

’n Fietsryer is ook die naweek in Olifantsfontein doodgeskiet. Die 58-jarige atleet is Saterdag geskiet.

Die oorledene het saam met sy swaer en dié se 18-jarige seun gaan fietsry toe hulle deur ’n Toyota Avanza voorgekeer en geskiet is.
Al drie is van hul fietse beroof.

Drie rowers is egter kort daarna aangekeer nadat hulle ook op twee ander fietsryers toegeslaan het, wat ook van hul fietse, selfone en kontant beroof is.
Die rowers is moontlik deel van ’n sindikaat wat die astronomiese waarde van sommige fietse besef het, waarvan baie se waarde dié van luukse motors oortref.

Die aktivis en joernalis Yusuf Abramjee het kort na die arrestasies die nuus met sy amper 800 000 volgelinge op X gedeel.

Plaaslik sal daar nou ingrypend gekyk word na planne om die Tarriesbaan te beveilig, met ’n eerste daadwerklike stap deur die munisipale wetstoepassingeenheid om die bosslapers en dwelmslawe uit die ruigtes by die Tarriesbaan te verwyder – dit is immers hulle werk – voordat iemand uit die Middelburg gemeenskap met sy lewe boet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button