News

Jy is nie geSchuster nie meneer, jy is geScam

Leon Schuster het in sy flieks na ’n suksesvolle poetsbak episode glimlaggend aangekondig: “Jy is geSchuster”. Nou daag daar gereeld mense op die dorp op wat moet hoor: “Jy is geScam”.

Hulle val vir bedrieërs se beloftes van goedkoop meubels, sleepwaens en selfs karre wat hulle bestel, betaal… en hulle winskopie dan vol verwagting op Middelburg kom oplaai.

Natuurlik is die boosdoeners slim en vee hulle spore vinnig uit.

Lees ook:

Identiteitsdiefstal nou ook op die slenterlys

Die adresse wat opgegee word behoort aan Middelburg inwoners maar hulle dra geen kennis van die “winskopies” nie.

Talle mense het by Hans du Preez se huis opgedaag om hulle meubels op te laai nadat hulle ten duurste daarvoor betaal het. Hulle het nie soos in Schuster se poetsbak-gevalle geglimlag nie, maar ’n pynuitdrukking op die gesig gehad.

Daar was geen meubels nie, hulle geld was weg en die rekening waarin hulle die geld betaal het, is lankal gesluit.

Verskeie slagoffers van die Facebook-slenter het die afgelope week met verwagting by ’n huis in Dennesig opgedaag.
Die bedrieërs het mnr. Jopie de Beer se woonadres, Rhodesstraat 24, gegee aan kopers van voertuie en sleepwaens.

Minstens sewe slagoffers het al by sy huis opgedaag om hulle aanlyn winskopies op te laai, net om te besef dat hulle ingedoen is.

Die Suzuki Samurai waarvoor ’n Klerksdorp inwoner R45 000 betaal het en nooit ontvang het nie.

Die bedrieër adverteer hoofsaaklik sleepwaens, maar in die mees onlangse geval het ’n man van Klerksdorp by sy huis opgedaag om ’n Suzuki Samurai te kom haal.

Volgens ’n geskrewe transaksieooreenkoms en ’n identiteitsdokument wat aan die slagoffer gegee is, identifiseer die vermeende bedrieër homself as Cornelis Johannes Brits en adverteer hy valslik mnr De Beer se woonadres as sy eie.

Dit was later bepaal dat die identiteitsdokument ook valslik gebruik word.

Wanneer slagoffers die betalings gemaak het, en by die huis opdaag om hulle winskopies af te haal dan antwoord die bedrieër nie sy foon nie.

Die slagoffer uit Klerksdorp het R45 000 vir die voertuig betaal.

• Die bedrogspul stem baie ooreen met die een waarby sekuriteitsspesialis en oud-polisieman, Hans du Preez, ingesleep is.

Mnr. Du Preez van Titon Security het inwoners gewaarsku teen die slenter nadat hordes slagoffers ook by sy huis opgedaag het om hulle winskopies af te haal.

’n Ene Jean Steenkamp het mnr. Du Preez se adres ook valslik opgegee as sy eie.

Van die slagoffers het duisende rande betaal vir ’n meubelstel wat hulle nooit ontvang het nie.

Lees ook:

Teleurstelling op gesigte sal by man spook na soveelste bedrogspul

Back to top button