‘Moses’ sê hy is ’n seun van Dawid
“Ek hoort nie hier nie. Ek moet na die beloofde land toe, dis my plek, my grond waar ek hoort.”
Die man met die lang baard, die Josefsklere en ’n staf soos Moses, het na nege jaar vir die eerste keer met die Middelburg Observer gepraat.
Hy is wel belese…en ken sy Bybel.”
Udai, soos hy by sommige mense bekend staan, of Eodai, soos hy dit uitspreek, is gebore as Herman Rhoode.
“Ek is so geregistreer,” sê hy.
Die Rhoode gesin het op Tweefontein naby Witbank (eMalahleni) gebly en hy het skoolgegaan by Laerskool Koornfontein.
Maar dit is dinge van die verlede.
“Ek is ’n seun van Dawid.”
Op die vraag of hy glo hy is uitverkies, is die antwoord dadelik: “Ja. Ek volg nie die valse messias nie. Jou werke wys wie jy volg.”
Hy glo mense verstaan hom soms verkeerd. “Hulle vertolk my verkeerd. Ek het nie dieselfde styl as ander nie.”
Hy haal gedeeltes uit die Bybel aan, soos uit Miga 4:1 om te praat oor sy pelgrimstog en om eendag in Israel uit te kom.
“Ek moet egter ’n tyd lank hier dien.”
Eodai raak opgewonde as hy verduidelik hoe belangrik dit is dat hy Israel toe moet gaan. Volgens hom loop hy hom vas in “die dokumentasiekant van die regering wat nie saamwerk nie.”
“Ek het geryloop van die plaas op Stoffbergpad af om strukture te kom sien en het met my banier die Skrif oopgemaak,”
Hy vertel tussendeur van mense, wat hy die ‘mafia’ noem wat hom wou doodmaak. Van mense wat hom met boeie vasgemaak het en Bloemfontein toe gery het nadat hy oor die grens is na ’n buurland toe.
“Hulle stoele het gebrand. Die mafia-agent is nie meer nie. Daar was geregtigheid. Ek het niks gedoen nie.”
Eodai dra nie wrokke nie en maak selfs verskoning oor ’n voorval nege jaar gelede toe die joernalis ’n foto van hom wou neem op die Stoffbergpad.
Hy wys nog gedeeltes aan die einde van Matthéüs in die Bybel en sê hy glo met sy hele siel in die opdragte wat in dié gedeelte gegee is.
Oor die oorlog in Israel, glo hy dat dit deel is van die vloek van Esau, nadat sy broer, Jakob, die seënspreek gekry het van hul pa.
“Esau het later Edom geword en die vloek op Esau was dat hy uit sy swaard uit sal lewe. Die oorlog wat tans daar woed kom van Edom af.”
Lees ook:
Die briljante sakeman wat op ’n pelgrimstog is, preek voor koerant se kantore