News

Luiperd gryp man terwyl hy aan heining werk

Middelburg se diere het wilde maniere

Gautengers wat die Loskopvallei besoek, kan dalk eersdaags ’n bordjie by die ingang van Middelburg kry: “Pasop vir die krokodille, renosters, seekoeie en luiperds.”

En, wanneer besoekers Kranspoortpas uitry kan daar dalk nog ’n waarskuwingsbordjie opspring: “Kyk uit vir die wit bobbejaan, die afoor koedoe en die zebra.”
Dit gaan “wild” in Middelburg!

Die krokodil-aanval op ’n plaas in die Avontuur omgewing waaroor daar landwyd berig is, was nie die enigste die laaste tyd nie. Avontuur is sowat 40km vanaf Middelburg in die rigting van Groblersdal.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/03/11/man-vertel-my-geveg-om-uit-krokodil-se-kake-te-kom/

Terwyl mnr. Anthony Joubert nog aansterk in die hospitaal na verlede naweek se krokodilaanval op ’n plaas waar hulle gaan visvang het, het ’n ander wildsboer vandag bevestig dat ’n luiperd een van hulle werknemers op sy plaas aangeval het. (Die betrokkenes het versoek om nie geïdentifiseer te word nie).

Die werknemer is hospitaal toe vervoer waar die bytmerke behandel is.

Volgens die plaaseienaar was die luiperd rustig in sy kamp, waar die plaashand aan heinings gewerk het.

Die luiperd is so gewoond aan sy hanteerders dat sy gereeld met hulle speel soos ’n oorgretige huiskat.

Maar die bielie is nie ’n huiskat nie, en op dié dag sowat ’n maand gelede, was die wildekat nie lus vir speel nie.

Die hitte het moontlik iets met die kat se irritasie te doen gehad.

Terwyl die werknemer aan die heining gewerk het, het die luiperd hom aan die arm beetgekry.

Toe hy met sy ander hand die dier se kake om sy arm wou bevry, het die werknemer ook bytplekke aan sy handpalm opgedoen.

Hy is hospitaal toe gejaag waar die bytwonde behandel is.

Die werknemer is terug op die plaas en sê die onderonsie tussen hom en die dame, was maar “huismoles.”

Die wildsplaas is toevallig ook in die Avontuur-gebied.

Dit was nie die enigste luiperdaanval die laaste paar jaar nie.

’n Nagwag moes in 2021 200 steke in sy arms kry, nadat ’n luiperd hom aangeval het op ’n plaas in die Uyskraal-omgewing.

Dié voorval het omstreeks 06:10 plaasgevind, toe die nagwag, sy skof voltooi het en op pad was na sy huis.

Die luiperd het die nagwag aan die agterstewe gebyt, en hy het op die grond geval. Hy is toe aan die arm gegryp. Die nagwag het die luiperd met sy hande probeer keer en erge beserings aan sy hande en arms opgedoen. Die luiperd het skielik gelos en die nagwag het weggehardloop, waarna hulp ontbied is.

Die plaasbestuurder vermoed dat die nagwag en luiperd “toevallig” in mekaar vasgeloop het.

• Die krokodilaanval, en die onlangse besoek van ’n Madagaskar koekoek by Kranspoort Dorp, het omtrent opslae gemaak, en onder meer daartoe gelei dat Jacaranda FM se Goodmorning Angels, R20 000 aan mnr. Joubert se mediesekostes geskenk het, terwyl busvragte toeriste by Kranspoortdorp aangeklop het vir ’n kykie na die seldsame koekoek.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/10/17/madagaskar-koekoek-het-voelkykers-op-hol/

• Maandag is daar ook ’n koedoe sonder ’n oor in die Kranspoortpas opgemerk waar hy rustig in die pad gestap het.

’n Motoris kon daarin slaag om ’n steelfoto van die koedoe te neem, maar groot was haar verbasing toe ’n zebra skielik sy opwagting maak, en stil-stil agter die koedoe aanstap na wie weet waar.

Ja-nee, avontuur wag vir jou op Avontuur.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/03/11/motoriste-gewaarsku-oor-afoor-koedoe/

• En, wie kan nou die September 2021 renosteraanval op uBhetyan o Africa vergeet, waar ’n dronk gas tydens ’n rampartytjie op die plaas, die renosterkoei, met ’n kalf by haar, wou graan grassies voer?

Hy is glo soos ’n “lappop” die lug ingeslinger, en het sy enkel lelik met die landingslag gebreek, wat ’n lang hospitaalbesoek tot gevolg gehad het.

 

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2021/09/05/ubhetyan-o-africa-renoster-skraap-dronk-man-tydens-rampartytjie/

Om nie te praat van die seekoeie wat daelank laatnag Middelburg se strate platgeloop het nie.

Die seekoeie, ’n bul en koei, het selfs ’n kalf by hulle gehad maar dié het tragies verdwyn.

Hulle is eindelaaste in Zaaihoek gevang, waar hulle in ’n boma vasgekeer was.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/04/05/seekoeie-loop-al-wiegend-en-waggelend-oor-pad/

Dan was daar die wit bobbejaan. ’n Vorige redakteur van die Middelburg Observer, Baden Hammond, het vir jare gesoek na die bobbejaan. En wraggies, een dag toe sit die wit kees daar langs die pad.

Pak maar jou seekoei, krokodil, luiperd en renostersproei in as jy Middelburg se kant toe ry…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button