News

Dennesig en Kanonkop lam gelê deur inbrake

’n String inbrake het die afgelope week in die Dennesig en Kanonkop woonbuurte plaasgevind.

Tiny Louw (voorsitter, Sektor 4 Noodroep Radiogroep) het genoem dat daar ’n voortdurende neiging tot inbrake in betredings in dié twee uitbreidings is en dat mense hul oë en ore moet oophou.

• Inbrekers het verlede week Woensdag vroegoggend in Melrosestraat (Dennesig) toegeslaan, waar daar by ’n motorhuis ingebreek is en ook ’n poging was om toegang tot ’n erf te kry.

Mnr Werner van Staden het gesê dat die verdagtes tussen 01:00 en 07:00 die oggend by hulle huis toegeslaan het.
“Ek het tussen 00:30 en 01:00 na my skof by Columbus Stainless by die huis aangekom, toe is alles nog reg.”

Mnr van Staden het eers 07:00 gesien dat sy motorhuisdeur oopforseer is. Die diewe het die slot gebreek en met ’n kragopwekker en bore weggekom.
Mnr Van Staden beraam die skade tussen R7 000 en R8 000.

• Kort na die inbraak by mnr van Staden, is daar ook ’n hekmotor in Melrosestraat oopgebreek.
Volgens mnr. JP Terblanche, het hulle huis se alarmstelsel tussen 05:15 en 05:30 afgegaan.

Mnr. Terblanche het ondersoek ingestel, maar kon niks sien nie. Hulle het egter, toe hulle wou ry werk toe, agtergekom dat die hekmotor oopgebreek is.
“Ek vermoed die alarm het hulle afgeskrik.”

• Daar word verneem dat daar ook by ’n huis in Helen Josephstraat, fietse gesteel is.

• Daar was ook ’n inbraak by ’n huis in Renosterstraat Vrydagoggend gerapporteer.

• Tiny noem dat daar ook ’n skerp toename is in die steel van wiele waar booswigte wiele van voertuie, veral bakkies, af steel en dan die voertuig staan maak op plaveiselstene, wat sommer in die slagoffer se erf uitgehaal word.

Twee weke terug is daar op die hoek van Jan Smuts- en Helen Josephstraat ’n Isuzu bakkie se wiele gesteel.
’n Paar dae later is daar toegeslaan in Hertzogstraat en dieselfde dag in Melrosestraat is ook wiele gesteel.

• Hy het gemeld dat daar verdagtes in erwe was in C.R. Swartstraat (02:52) en daar toegang probeer kry is by hekke in Helen Joseph-, Melrose- en Violetstraat (Kanonkop).

• Daar was ook ’n booswig op ’n huis se dak in Louis Bothastraat (Dennesig). Die polisie is uit na die huis en het op die dak geklim, maar met hul aankoms, was die betreder reeds weg.

• Die Sektor 4 Noodroep Radiogroep hanteer Kanonkop, Dennesig en die Middedorp. Vir enige navrae skakel Tiny by 071 227 5491 of Dolfie Coetzee (ondervoorsitter) by 078 032 2737.

Also read:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/05/30/watch-wheel-thieves-at-work-in-dennesig-caught-on-camera/

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/06/03/mans-met-balaklawas-hardloop-in-straat-af/

 

Back to top button