Soektog verby – Vrou ‘het rede hoekom sy weg geloop het’
Tersia Nel is veilig terug in Springs.
Daar is per stempos laat weet dat Nel haar tans by Plantation Farms in Geduld bevind.
Die persoon wat die stempos aan haar “verloofde” Jannie Theunissen gestuur het, het gesê sy’s veilig en “het haar redes hoekom sy weg geloop het.”
Boodskappe van Nel se verdwyning is Maandagaand op plaaslike veiligheidsgroepe versprei.
Volgens Theunissen het hy Nel sowat ses dae terug met ’n ‘Bolt’ geleentheid uit Spring na Middelburg laat kom.
Hulle het mekaar op ’n Facebook groep vir enkellopendes ontmoet en oor WhatsApp begin gesels.
Daar is toe afgespreek dat Nel Middelburg toe sal kom om Theunissen persoonlik te ontmoet.
Hy beweer hulle het intussen verloof geraak.
Maandag was daar glo, volgens Theunissen, ’n gekskeerdery tussen Nel en ’n huismaat van Theunissen, genaamd Japie.
Theunissen sê dat die gekskeerdery naderhand in “harde woorde” ontaard het en hy op ’n stadium ’n huilende Nel in die slaapkamer aangetref het.
Sy het toe vir hom gesê sy soek haar bankkaart, wat sy uit Theunissen se beursie gaan haal het, om na OK Foods in Jeppestraat toe te gaan.
Dis toe dat sy spoorloos verdwyn het.
Theunissen het die strate platgeloop op soek na Nel, en selfs op die polisie se nommer gedruk.
’n Amptelike vermiste persone dossier is egter nie geopen nie.
Middelburg Observer het die soektog na Nel aanlyn gevolg, en familielede van haar het in die kommentareseksie laat weet sy’s veilig.
Theunissen het vroeg vanmore die stempos boodskap aangestuur waarin die familielid sê Nel “het haar redes gehad om weg te loop.”
Nel kon nie opgespoor word vir kommentaar nie.
’n Hartgebroke Theunissen sê dat al Nel se klere, grimering en haar handdoek nog by sy huis lê.
Hy sê hy het oor die R600 vir die ‘Bolt’ geleentheid Middelburg toe betaal.
Nel het ook nog nie self met Theunissen gepraat om te verduidelik waarom sy gevlug het nie.
’n Foto van ’n stralende Nel terug in Springs is ook aan Middelburg Observer verskaf.
Nel het glo vantevore in Cradock en Pongola ook vermis geraak, nadat sy by mans daar gaan kuier het.
Een van haar voormalige kêrels in Pongola het gesê dat hy daarna uitgevind het dat sy saam met haar eks weggeloop het.
Lees ook:
