Fietse van ’n geskatte R200 000 is tydens ’n inbraak by ’n vooraanstaande fietswinkel by die Midwater-kompleks gesteel.
Op die kompleks se CCTV materiaal kan gesien word hoe vier mans met ’n paneelwa by die winkel opdaag.
Die vier mans het toegang tot die winkel deur die voordeur verkry, wat oopgebreek is.
Een van die winkel se eienaars het aan Middelburg Observer gesê dat hulle ses nuwe fietse, en twee fietse wat aan die winkel se kliënte behoort het, tydens die inbraak verloor het.
Die vier boewe het blitsvinnig weer laat spaander.
“Hulle was in en uit,” sê die eienaar.
Tydens die ondersoek is die beeldmateriaal aan die polisie oorhandig, maar geen arrestasies is nog gemaak nie.
Die paneelwa waarin die inbrekers opgedaag het, het geen nommerplate op gehad nie.
Op die winkel se Facebook-blad het die eienaars gesê dat die inbraak ‘onverwags en ongelukkig’ was, veral in die lig daarvan dat twee lojale kliënte se fietse geteiken is.
Die winkel het nou sy sekuriteit opgeskerp en kliënte bedank vir hul volgehoue ondersteuning.
Dit is onduidelik of ’n sindikaat vir die inbraak verantwoordelik is, hoewel dit vermoed word.
• Fietsry het die afgelope paar jaar geweldig posgevat onder fiksheidsentoesiaste.
• Die Observer het die week ook berig oor ’n fietseienaar wat sy eie fiets by ’n man afgeneem het, toe hy die man in die straat op die fiets opgemerk het.
Daarna het dieselfde man glo op ’n nuwe fiets verby hom gery gekom.
Dis onduidelik of dié fiets ook gesteel was.
LEES MEER HIER: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2025/04/15/boef-staan-gesteelde-fiets-af-ry-later-verby-met-nuwe-fiets/
• Op 10 April het ons ook berig dat twee duur fietse in Gholfsig gesteel is.
Die huis in Jan Cillierstraat se motorhuis is oopgebreek en ’n Giant resiesfiets, asook ’n Peugeot resiesfiets, is gesteel.
LEES MEER HIER: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2025/04/10/twee-fietse-in-gholfsig-gesteel/
