News

Skok nadat provinsie se voorste driekamp atleet uit sport geskop word

Verskeie sportmanne en vroue toets positief vir verbode middels.

Mpumalanga se voorste driekamp atleet is vir drie jaar uit die sport geskop, nadat hy positief vir ’n verbode middel getoets het.

Volgens SAID (Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) se webblad is daar ’n lang lys sportmanne, waaronder Patrice (Patoe) Gautier, wat geskors is vir die gebruik van verskeie verbode middels.
Volgens SAID se webblad is Gautier vir drie jaar geskors.

Hy het positief getoets vir ‘eksogene teikenverbindings van testosteroon.’
Behalwe vir sy prestasies in driekamp is Gautier ook ’n Mpumalanga fietsry kampioen in sy ouderdomsgroep.
Alhoewel hy uit die sport geskop is, adverteer hy tans sy dienste as fiksheidsafrigter.

Hy het oor die jare talle byeenkomste gewen, waaronder die Ford Trailseeker Sondela wedren, TinMan driekamp en die Suid-Afrikaanse tydtoets kampioenskappe op Graskop.
Hy het die RideJoburg in 2:33 afgeblits, met ’n gemiddelde spoed van 37.13.

In 2014, toe hy 44 jaar oud was, het sy tyd in die half Ironman die vorige jaar, hom in die top 10 in sy ouderdomsgroep in die wêreld geplaas.
Die jaar daarna word berig: “Patrice is ’n menslike masjien wat sy liggaam oor en oor tot die uiterste beproef”.
Verskeie plaaslike fietsryers gebruik sy oefenprogramme en hy was ook nou betrokke by die afrigting van skole fietsryers.

Volgens die SAID lys van geskorste sportmanne is atlete die grootste sondebokke by die gebruik van verbode middels met 10 oortreders, daarna volg fietsry met vier, driekamp twee, ekstreme gevegkuns, gevegskuns, rugby en krieket elkeen met een.

Die rugbyspeler wat geskors is, is ’n minderjarige.

Die sportvrou wat die langste geskors is, is die atleet Carina Horn wat vir ses jaar uit die sport geskop is.

Intussen het Sunday World berig dat daar “gesistematiseerde opkikkers in Suid-Afrikaanse atletiek is?”

Volgens die koerante is sommige medici, afrigters en bestuurders verantwoordelik dat sportmanne en vroue van opkikkers voorsien word om prestasies te verbeter, omdat daar groot finansiële gewin is.

Van die land se bekendste atlete is die jaar geskors waaronder Dan Moselakwe, Phalula-Mzazi wat Suid-Afrika by die Olimpiese Spele van 2016 verteenwoordig het en William Kaptein wat vanjaar die Twee Oseane-halfmarathon in Kaapstad gewen het. Moselakwe het tweede in die 2024 Comrades-marathon geëindig.

Phalula-Mzazi is vir drie jaar verban, nadat sy positief getoets het vir die middel eritropoïetien.

Kaptein het ‘n skorsing van een maand ontvang, nadat ’n toets tydens ’n kompetisie dagga in sy urinemonster opgespoor het, terwyl Moselakwe ’n sanksie van vier jaar opgelê is.

Krieketspeler Kagiso Rabada, atlete Nicholas Seopesengwe en Nkosikhona Mhlakwana is ook onder die groep sportsterre wat skorsings van SAIDS vir hul oortredings vanjaar ontvang het.
Rabada is ’n skorsing van een maand opgelê vir kokaïengebruik.

• Gautier is vir sy kommentaar gevra maar hy net na ’n week steeds nie reageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button