Wanneer die drank vloei en die ramme word baldadig.
Die moeder van alle rampartytjies het die naweek op Dullstroom plaasgevind.
Nie net een nie, maar sommer drie.
Die uiteinde was ’n woeste geveg, ’n man wat deur die gesig geklap is met seksspeelgoed in die vorm van ’n penis en twee mans wat in die Life Midmed Hospitaal behandel is vir skietwonde.
Maar hoe banaal kan rampartytjies wees?
Daar word soms vroegoggend al op ’n straathoek bymekaar gekom en dan paradeer die toekomstige bruidegom in absurde klere met ’n bedelbakkie. Die hiënas dink dit is baie snaaks en sit eenkant op hulle bakkies en giggel.
Was verstom om ’n “gesiene inwoner” se seun by die Middelburg Mall kruising te sien met pienk ballerina rokkie aan, terwyl sy vriende daar naby sit en lag.
Het een aand tussen ’n klomp jong mans by ’n braai gestaan wat gespog het hoe dronk hulle was by rampartytjies en hoe hullle slagoffers deurgeloop het.
Daar was hare wat op verskillende plekke afgeskeer is, arms en bene in gips, liggaamsdele wat geverf is en gifbekers wat enige ou vir die res van sy lewe sal uitskop.
Toe een van die mans vertel hoe het sy vriend bewustelooos op die vloer bly lê, het ’n ander een gespog “ag nee ons het hom sommer natge..s, sodat hy weer kan nugter word”.
’n Bekende plaaslike boer se seun het ’n paar jaar gelede ’n rampartytjie op sy pa se plaas gehou. Vriende van Secunda het gedink dit is snaaks om sy drankie met dwelms te dokter. Hy het in Life Midmed Hospitaal se intensiewe sorgeenheid beland.
Op 13 November 2022 het Willem Kruger die rampartytjie van Ghini Greyling by die Henbase Lodge bygewoon en daarna verdwyn. Sy bakkie en liggaam is op 22 November uit ’n sterkvloeiende rivier gesleep.
In 2021 is ’n rampartytjie by Ubhetyan o Africa gehou toe een van die partytjiegangers ’n renosterkoei met ’n kalf “grassies probeer voer het.” Hy is deur die koei aangeval en in die lug opgeskiet “soos ‘n lappop”.
Die man, “wat erg besope was,” is glo deur sy vriende afgeraai om die koei te gaan voer voordat hy gegaffel is.
“Ek verstaan sy voet is morsaf en dat dokters eers vandag behandeling gaan voortsit, omdat hy te dronk was” is later aan die Middelburg Observer gesê.
Die drama op Dullstroom het begin by ’n rampartytjie wat handuit geruk het by ’n restaurant wat sy amptelike opening gevier het.
Die restaurant het die moeilikheidmakers gevra om te vertrek, wat hulle gedoen het, maar hulle het by dieselfde kroeg beland, waar die groep met wie hulle by die eerste kroeg gebots het, gegaan het om die drama te ontsnap.
Vuiste het by die tweede kroeg geklap, toe ’n persoon by die partytjie na bewering ’n ander klant met ’n seksspeelgoed geklap het.
Dit was tydens die geveg buite, na die klap, dat ’n wapen afgevuur is.
Na die skietery het die betrokke partye in hul voertuie gevlug, terwyl nooddienste die slagoffers behandel het.
Hulle is na die Life Midmed Hospitaal gehaas, waar hulle albei Sondag ontslaan is.
Een van die slagoffers sal verdere mediese behandeling moet ondergaan.
Die vermeende skieter is na ’n nabygeleë vulstasie gevolg, waar nog ’n vuisgeveg uitgebreek het, voordat die polisie en lede van Plaaswag opgedaag het.
Die vermeende skieter, ’n man van Johannesburg, is later gearresteer maar weer vrygelaat.
Die wapen is vir ballistiese toetse gestuur, en die polisie sê die skietery word steeds ondersoek.
Volgens getuies het ’n opblaas-sekspop wat aan iemand by die rampartytjie behoort het, ook wrywing veroorsaak voor die dildo-klap.
Op ’n stadium is die partytjiegangers versoek om die sekspop aan te trek, omdat jong kinders die petalje gade geslaan het.
Soekenjins sê “vrygeselpartytjies het soms ’n slegte reputasie dat hulle handuit ruk. Flieks soos “The Hangover” en “American Wedding” laat dit lyk asof elke vrygeselpartytjie vol dronk mans en ontkleedansers is. En, wel, soms doen vrygeselpartytjies presies dit.”
Nog ’n soekenjin sê rampartytjies (bachelor parties) wat skeefloop, behels dikwels oormatige drankgebruik, wat kan lei tot onverantwoordelike gedrag, fisiese beserings, skade aan eiendom, of die skending van verhoudings. Sulke gebeure kan vinnig ontaard in voorvalle wat die bruidegom of gaste in verleentheid bring en kan langtermyn gevolge hê. Oormatige alkohol is die hoofoorsaak van die meeste probleme, wat lei tot swak oordeel en gevaarlike situasies.”
