Die Bokheld en die rampartytjie wat die land aan die gons het
Eers is daar gespot oor Kwaggarand en toe gegiggel oor Dildostroom.
’n Bokheld en rampartytjie wat hande uitruk.
Twee weke gelede is daar nog op Dullstroom gespot dat die toerisme dopie se naam na Kwaggarand kan verander.
Dit was nadat die Bokheld, Kwagga Smith, aangekondig het dat hy die Hennie’s Restaurant op Dullstroom open.
Na ’n wilde rampartytjie waar ’n sekspop en seksspeelgoed sentraal staan, word daar nou gespot: miskien moet Dullstroom se naam verander na Dildostroom.
By navraag het Smith, wat sy rugby in Japan speel, gesê dat Kwaggarand miskien bietjie oordrewe is, want dit is maar sy tweede besigheid op die dorp.
Smith is behalwe vir rugby, ’n suksesvolle entrepreneur met ’n fokus op landbou en gasvryheid. Hy besit Kareekraal naby Dullstroom, ‘n luukse forelplaas en gastehuis naby die dorp met hengel en verblyf as fokus. Hy bedryf ook ’n familieboerdery wat mielies, soja, pekanneute en okkerneute produseer.
Met die opening van sy Hennie’s Restaurant het ’n sekspop wat “pret” moes verskaf by ’n rampartytjie; alles bederf.
Op ’n stadium is die partytjiegangers versoek om die sekspop aan te trek, omdat jong kinders die banale optrede gade geslaan het.

Die ongemanierde ramme is later gevra om eerder op ’n ander plek te gaan kuier.
Die uiteinde was ’n geveg by ’n restaurant, waar ’n man deur die gesig geklap is met seksspeelgoed in die vorm van ’n penis en twee mans in die Life Midmed Hospitaal behandel is vir skietwonde.
Een van die slagoffers sal verdere mediese behandeling moet ondergaan.
Die vermeende skieter is na ’n nabygeleë vulstasie gevolg, waar nog ’n vuisgeveg uitgebreek het, voordat die polisie en lede van Plaaswag opgedaag het.
Die vermeende skieter, ’n man van Johannesburg, is later gearresteer, maar weer vrygelaat.
By navraag het Hennie’s franchise eienaar, Rikus de Beer, gesê: “Rikus hier, ek het reeds met die media gepraat, julle is welkom om die berigte te gaan lees.”
Ons het dit gaan lees.
Daarin sê De Beer “’n paar van die ouens was maar net ’n bietjie onder die invloed en ons het later die nugterder vriende mooi gevra om aan te beweeg, maar daar was nie enige insidente volgens die eienaar nie. Die drama het blykbaar by die volgende stop begin”.
De Beer het nie die volgende pertinente vrae beantwoord nie:
“Na aanleiding van mediaberigte die afgelope tyd beantwoord asseblief die volgende vrae vir publikasie in Caxton media. “Was dit die opening van Hennie’s op Dullstroom twee Saterdae gelede? “Is die eienaar Kwagga Smith? “Was hy by die opening teenwoordig?
“Is dit waar soos aan ons meegedeel deur verskeie ooggetuies, dat daar ’n seksopblaaspop in die restaurant was wat gaste ontstel het?
“Wat was die restaurant bestuur se optrede om die ongelukkigheid aan te spreek?
“Is daar enige planne van Hennie’s restaurantgroep om rampartytjies soos wat op Dullstroom plaasgevind het beter te beheer?”
Intussen maak die dildoklap opslae. Selfs die Kaapse koerant, Die Burger, het berig: “Poppe dans toe ramme erg uitrafel”.
