News

Gideon Scheepers: Middelburg se eie baasverkenner

Selfs in Amerika is gepleit dat hy nie tereggestel word nie

Gideon Scheepers is op 4 April 1878 in die distrik Middelburg van die destydse Transvaal gebore. Hy was een van tien kinders van Jacobus Johannes Scheepers en sy vrou, Sophia Charlotte van der Merwe.
Gideon het op die plase Grootlaagte en Roodepoort in die Middelburg-distrik grootgeword. Hy het goeie primêre opvoeding ontvang, onder andere by Willem Rood se skool by Springboklaagte. Hy was glo só intelligent sy ouers wou gehad het hy moet ’n dominee word. Daar was egter nie geld vir verdere studies nie en hy het dit laat vaar.

In 1895, op 17-jarige ouderdom, sluit Scheepers by die Transvaalse Staatsartillerie aan waar hy as heliografis opgelei is. Hy het uitstekende aanleg vir die werk getoon en is vinnig bevorder. Nadat hy by die Staatsartillerie aangesluit het, het hy sy studies voortgesit. Hy het hom toegespits op die studie van tale: Engels, Duits en Frans. Sy dagboek getuig daarvan dat hy goed kon skryf en ’n groot liefde vir die natuur gehad het. Die spreektaal op kommando was Afrikaans, maar goed geleerdes soos Scheepers het in Nederlands geskryf.

Teen Mei 1898, op 21-jarige ouderdom, is hy tot sersant bevorder. Sy taak was om ’n veldtelegraafdiens in die Vrystaatse Republiek op die been te bring. Dit het hy suksesvol reggekry.

Anglo-Boereoorlog

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was Scheepers in Bloemfontein. Hy het op 11 Desember 1899 as lid van die Vrystaatse Staatsartillerie aan die Slag van Magersfontein deelgeneem, waar hy onder generaal Christiaan de Wet geveg en een van die generaal se baasverkenners geword het.

Hierna het De Wet hom gebruik om boodskappe na generaal Piet Cronjé te neem. Hy was by Cronjé se kommando rondom die tyd toe hulle by Paardeberg oorgegee het op 27 Februarie 1900, maar het gelukkig inhegtenisname ontsnap, omdat hy elders besig was om telegraafkabels te lê.

Baasverkenner Gideon Scheepers. FOTO: Verskaf.

De Wet het Scheepers se potensiaal raakgesien en hom in Mei 1901 tot kaptein van ’n verkennerskorps bevorder. Scheepers se voorstel dat Britse verbindingslinies verbreek word, het daartoe gelei dat die Boere tydens die Britse opmars van Bloemfontein na Pretoria ’n aantal suksesvolle roofaanvalle op Britse militêre treine uitgevoer het.

Scheepers was by De Wet toe die Boere op 15 Julie uit die Brandwaterkom ontsnap het. Daarna is hy Lindley toe om burgers daar aan te spoor. Terug by De Wet het Scheepers (en Danie Theron) se verkenningswerk De Wet in staat gestel om in Julie en Augustus 1900 Britse kolonnes in die Oos-Vrystaat en in die Transvaalse Magaliesberge te ontwyk. Hierna is hy terug Vrystaat toe, waar hy baie burgers wat oorgegee het, oorreed het om weer te veg.

Gedurende hierdie tydperk het hy ook keer op keer die spoorverbindings noord van Kroonstad verbreek.
Vanaf die einde van 1900 het die Boere, waaronder Scheepers, met ’n aantal kleinerige kommando’s die Kaapkolonie binnegeval. Oor die volgende tien maande was hulle bedrywig in ’n gebied van die Oranjerivier in die noordooste tot by die Indiese Oseaan in die suidooste, meestal rondom Graaff-Reinet en Cradock. Scheepers se magte is aangevul deur Kaapse rebelle. Hulle was almal Kaapse burgers – en dus Britse onderdane – wat gekies het om aan Boerekant te veg.

Die Boere was só effektief dat die Britte verplig was om hul troepe uit die Boererepublieke te onttrek, om teen die kommando’s rondom Graaff-Reinet te veg. Scheepers is in Maart 1901 tot kommandant bevorder, maar die amptelike nuus daarvan het hom eers in Augustus bereik.

Vanaf 20 Julie 1901 het Scheepers begin om, as teenmaatreël teen die verskroeideaardebeleid, die plaaswonings van mense in die Kaapkolonie wat die Boere vyandiggesind was, af te brand. Hy het ook opdrag gekry om gewapende swart mense wat hy gevang het, en wat volgens hom spioenasie gepleeg het, tereg te stel.

Hy was een van die mees onverskrokke, waaghalsige en begaafde guerrillaleiers wat die oorlog opgelewer het. Die hoë aansien wat hy onder sy manskappe gehad het, het hom in staat gestel om ’n gedugte vegeenheid te vorm.

Gideon Scheepers word in Beaufort-Wes behandel. FOTO: Verskaf.

Siekte en inhegtenisname

Scheepers was teen die einde van September 1901 in die Klein Karoo bedrywig toe siekte, vermoedelik longontsteking, hom begin teister het. Dit het hom naderhand só verswak dat hy nie verder kon veg nie. Op 10 Oktober 1901 het hy sy kommando oorreed om hom, teen hul sin, op die plaas Koppieskraal in die distrik Prins Albert agter te laat, sodat hy deur die Britte krygsgevange geneem kon word in die hoop dat hulle goeie mediese behandeling aan hom sou verskaf.

Scheepers het ’n dagboek gehou, en soos volg oor die voorval geskryf: “Een burger ná die ander kom in, huilende. Rondom my bed staan my offisiere en manskappe almal diep bewoë … My adjudant, Karl Rehmkühl, ’n jongeling van 16-jaar, so dapper en braaf as wat mens maar van kan droom, lê met sy kop op my bors, snikkende. Dit is oorbodig om te sê dat die trane langs my wange afrol.”

’n Britse kolonne het hom dieselfde dag gevange geneem. Hy is vriendelik deur die Britse dokters en verpleegsters behandel. Hulle het hom eers na die Matjiesfontein-hospitaal geneem, en toe na die tronk in Beaufort-Wes. Hier was hulle so bekommerd dat hy kon ontsnap, dat hy alleen in ’n groot tent aangehou is, omring met ’n doringdraadheining van 24 drade, asook wagte met bajonette.

Van Beaufort-Wes is Scheepers per trein na Graaff-Reinet geneem, maar hy het op pad só siek geword dat hy eers in Noupoort in die hospitaal opgeneem is. Nadat hy herstel het, is hulle Graaff-Reinet toe waar hy in die tronk opgesluit is.

Hofsaak en teregstelling

Scheepers was ’n Transvaalse burger, en ná sy inhegtenisname deur die Britte dus ’n krygsgevangene. Daarvolgens kon die Britte hom aanhou, maar nie straf nie. Die Britte het egter besluit om hom aan te kla dat hy die bepalings van die krygswet in die Kaapkolonie oortree het.

In Graaff-Reinet het hy voor ’n militêre hof verskyn. Hy is aangekla van moord, brandstigting, vernietiging van treine, en mishandeling van gevangenes. Die hof het sy saak in die verhoor, wat by tye deur sy siekte onderbreek is, op 28 Desember 1901 afgesluit. Hy is skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die Britse opperbevelvoerder, lord Horatio Kitchener, het die besluit op 14 Januarie bekragtig.

Die vonnis is op 17 Januarie op die openbare plein in Graaff-Reinet in Scheepers se teenwoordigheid aangekondig.
Scheepers het gedurende die verhoor en vonnis groot moed en kalmte aan die dag gelê. Hy het in sy dagboek geskryf: “Ek voel geheel en al nie bevrees nie. Ek is net jammer vir my dierbare moeder … my grootste troos is dat ek onskuldig is.”

Scheepers is die volgende dag, 18 Januarie, na ’n veld buite die dorp geneem, sodat sy teregstelling nie deur ’n skare bygewoon kon word nie. Hy is op ’n stoel vasgemaak, geblinddoek, en toe deur ’n vuurpeloton doodgeskiet. Hy was slegs 23 jaar oud.

Scheepers is eers op die plek waar hy geskiet is, begrawe, maar is nog dieselfde nag deur Britse troepe opgegrawe uit vrees dat sy kommando sy liggaam sou probeer terugkry. Daarna is hy op ’n onbekende plek herbegrawe, moontlik in die bedding van die Sondagsrivier.

Sy lyk is nooit gevind nie. Hoewel hy nie getroud was nie, was hy ten tye van sy dood verloof aan Johanna Scheepers (nie ’n bloedverwant nie).

Die Gideon Scheepers monument op Graaff-Reinet. FOTO: Rudi van Wyk.

Impak van sy teregstelling

Scheepers het ongetwyfeld die aktiwiteite waarvoor hy aangekla is, uitgevoer. Sy verdediging was dat hy bevele uitgevoer het, presies soos honderde Britse soldate gedoen het – en vir hulle was daar geen gevolge nie! Daar is ook gevra of ’n Britse militêre hof die reg gehad het om die doodsvonnis uit te spreek oor ’n Boere-krygsgevangene wat nie ’n Britse onderdaan was nie.

Die klip monument ter ere van kommandant Gideon Scheepers in die Graaff-Reinet omgewing. FOTO: Rudi van Wyk.

Scheepers se teregstelling het tot groot verontwaardiging in Suid-Afrika en oorsee gelei. Baie Afrikaners het die Britte van moord beskuldig. Scheepers se teregstelling – ten spyte daarvan dat hy nie ’n Britse onderdaan was nie en boonop ’n gesiene offisier – het sommige Britse parlementslede laat twyfel oor die behoorlikheid van die militêre howe in Suid-Afrika.

Selfs in die Verenigde State van Amerika (VSA) is daar voor sy teregstelling gepleit dat hy nie tereggestel moet word nie. Dit was egter alles tevergeefs.

Monument buite Middelburg

’n Monument waarvan weinig mense weet is in 1945 reeds tot sy eer opgerig. Dit staan versteek in die Scheepers-familiekerkhof naby Arnot in Mpumalanga.

’n Monument waarvan weinig mense weet is in 1945 reeds tot sy eer opgerig. Dit staan versteek in die Scheepers-familiekerkhof naby Arnot in die Middelburg distrik.. FOTO: Rudi van Wyk.

Gideon se pa, Jacobus, is in 1934 oorlede en sy ma, Sophia, het daarna op haar eie tot haar dood in 1956 na Gideon se oorskot gesoek. Sy was teenwoordig op die dag toe die monument onthul is, al was sy al 85 jaar oud.

Op die monument staan geskrywe: Ter nagedagtenis aan komdt. Gideon Jacobus Scheepers. Die onvergeetlike boereheld. Gebore dist. Middelburg 4 April 1878. Gefusilleer op Graaff-Reinet 18 Januarie 1902. Sy lewe was beminlik. Sy stryd dapper. Sy dood onverdiend. Sy graf onbekend.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button