News

Kerkie ’n herinnering aan donker tyd in geskiedenis

Daar was 13 begrafnisse per dag met veral kinders wat gesterf het

Op die terrein van HTS Middelburg staan die oudste monument in Middelburg, in die vorm van ‘n gedenkkerkie opgerig tussen 1903 en 1906.


Waarvoor is dit opgerig?

Dit gedenk die slagoffers van die konsentrasiekampe in Middelburg.
Middelburg was, ten tye van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), ’n administratiewe sentrum vir die omliggende area en na die Britse soldate Middelburg op 27 Julie 1900 beset het, word dit ’n spilpunt in die lotgevalle van vele bejaardes, vroue en veral kinders.

Veldmaarskalk Lord Frederick Sleigh Roberts, die Britse Opperbevelvoerder, het reeds op 16 Junie 1900 opdrag gegee vir die afbrand van boerewonings in die omgewing waar, aanvanklik, aanvalle deur Boere op spoorweë plaasgevind het. Vanaf ongeveer Oktober 1900 word die eerste vroue en kinders van sulke afgebrande plase per trein vanaf Balmoral na Middelburg gebring en hulle word in die huise oorkant die stasie aangehou.

Op 29 November 1900 neem Lord Horatio Herbert Kitchener by Roberts oor en reik op 21 Desember 1900 ’n soortgelyke proklamasie uit oor vernietiging van boereplase en sy Verskroeide Aarde-beleid. Hy gee in Desember 1900 opdrag dat ’n konsentrasiekamp in Middelburg gevestig moet word om die inwoners van plase byeen te bring. Die Britte besluit op ’n terrein suid van die treinspoor wat ’n swak keuse was: die terrein was vleierig en die uitleg van die kamp was baie swak.

Teen Julie 1901 het hierdie kamp reeds 7751 inwoners gehad, meer as die mense in die dorpie. Dit het gestrek van ongeveer waar die huidige Laerskool Staatspresident CR Swart is, oor die terrein van HTS Middelburg tot teen John Magagulastraat. Dit was egter nie net vroue en kinders wat na die kamp afgevoer is nie, maar ook bejaarde mans wat nie kon gaan veg nie, bejaarde vroue en verskeie gestremde persone. Die kamp is swak georganiseer en bestuur. Almal is in tente geakkommodeer, maar daar was ’n tekort aan tente en verskeie voorvalle is gedokumenteer waar gesinne vir dae sonder enige beskutting in slegte weer gestrand was. Tweedehandse tente wat uit Brittanje ingevoer is, was oor die algemeen ook in ’n baie swak toestand en het in die reën erg gelek, was bitter koud in die winter en geweldig warm in die somer. Die tente was oorvol en te veel mense is in klein spasies ingedruk. Meeste gesinne is van die plase af verwyder sonder enige warm komberse of meubels en moes op die grond slaap.

Middelburg Konsentrasiekamp (Foto: TAB – KI gekleur)

In dié omstandighede het aansteeklike siektes baie maklik versprei. Masels het in die kamp uitgebreek. Masels versprei baie maklik deur hoes en nies, in ’n oorvol tent het dit vinnig versprei. Masels in sulke swak omstandighede ontwikkel komplikasies en daarom sterf groot getalle kinders. Ander aansteeklike siektes wat voorgekom het, sluit in kinkhoes, skarlakenkoors en witseerkeel – wat selfs vandag ’n baie ernstige siekte is. Volwassenes het veral griep ontwikkel en dit het dikwels gelei tot longontsteking, wat in daardie tyd, voor antibiotika ontwikkel is, dodelik was.
Alhoewel daar ’n hospitaal in die kamp was, wat uit 10 groot tente bestaan het, wou die Boervrouens nie gehad het dat hul siekes na die hospitaal geneem word nie. Vir die Boere van daardie tyd was ’n hospitaal ‘n onbekende konsep. Hulle was gewoond dat siek persone in die huise deur die familie versorg word en heeltyd warm toegedraai word. Die Boervroue het ook geglo in hul tradisionele “Hollandse” medisyne en het nie die Britse dokters se behandeling verstaan nie.
Verskeie gesinstragedies speel hier af. Daar is gesinne wat al die kinders in die kamp verloor en dan tragedies waar die moeder oorlede is in die kamp en die vader in die oorlog sneuwel.

Middelburg Konsentrasiekamp kamphospitaal (Foto: TAB – KI Gekleur)

Die toiletfasiliteite in die kamp was baie swak. Daar was puttoilette en slopemmers in elke tent. Die drinkwater was te min. Alhoewel daar ses putte in die kamp gegrawe is waaruit water opgetrek is, was dit hopeloos te min vir die hoeveelheid mense en moes dele van die kamp water uit ’n leivoor vanuit Krugerdam (waar die Kakies hulle en hulle perde gewas het!) drink. Die kosrantsoene was baie swak. Die inwoners wie se mans nog op Kommando was, het aanvanklik slegs meel, koffie, suiker en baie min melk uit blikkies gekry. Later het die kosrantsoene verbeter.

In hierdie omstandighede sterf 1,7% van al die inwoners. Die hoogste sterftesyfer was tydens die bitter koue winter van Julie 1901 toe 404 inwoners oorlede is, dit verteenwoordig 13 begrafnisse per dag.
Die toestande, uitleg en water in die kamp was so sleg, dat ’n Britse inspeksiekomitee, die Ladies Committee, wat gestuur is om Emily Hobhouse se bewerings te ondersoek, op 14 Oktober 1901 rapporteer dat die Middelburg kamp “the most unsatisfactory” in die land is. Daarom word die kamp gesluit en tussen Oktober en Desember 1901 word al die inwoners na ’n nuwe terrein oorkant die rivier hoër op teen Kanonkop geskuif. Die nuwe terrein is beter uitgelê, tente is verder uitmekaar opgeslaan, meer water was beskikbaar en toilette is verbeter.

Die werkers van die plase is dikwels ook gevange geneem en na die “swart konsentrasiekamp” in Middelburg gebring. Dit was volgens die karige rekords ’n relatiewe klein kamp en was waarskynlik aangrensend tot die Kanonkopkamp langs Mhluzi-woonbuurt. Daar was ook moontlik ’n swart kamp in die area omliggend tot die huidige Militêre Basis, aangesien Middelburg se swart woonbuurt aanvanklik in dié area was. Swart bevolking wat gevange geneem is, is bloot by Panstasie van die trein afgelaai en moes verder loop. Hulle omstandighede was nog baie slegter as die boeregesinne s’n. Hulle het geen tente ontvang nie en moes hul eie skuilings bou om in te woon. Hulle kos was geweldig min en baie moes vir die Britte werk om blokhuise te bou en ander harde werk te doen. Die sterftesyfer was baie hoog.

Uiteindelik sterf daar ongeveer tussen 1314 en 1621 persone in die Middelburg se konsentrasiekampe in ’n twee- jaarperiode. Dit is ter herinnering aan hiérdie tragiese sterftes dat die gedenkkerkie as monument opgerig is.

Mineralia Konsentrasiekamp Begraafplaas – een van drie Konsentrasiekampbegraafplase in Middelburg. Hier het gemiddeld 13 begrafnisse per dag plaasgevind.

’n Monument word opgerig

Met die terugkeer in September 1902 van ds Alewyn Burger, die leraar van die Nederduits Gereformeerde Gemeente (Witkerk) vanaf Indië, waar hy krygsgevange gehou is, en sy eggenote, mev. Janie Burger, vanaf Howick waar sy in die konsentrasiekamp aangehou is, begin hulle met die idee vir ’n monument vir die vroue en kinders wat in die kampe gesterf het.

Op die NG Kerkraadsvergadering van 23 November 1903 het die kerkraad van NG Kerk Middelburg besluit dat ’n gedenksaal (ook dikwels genoem gedenkkerkie) gebou sal word op burgererf nr. 660, ter herinnering aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekamp gesterf het. Die erf was volgens inligting op die plek waar die kamphospitaal gestaan het. Hulle verwys na die gebou as ’n gedenksaal, alhoewel dit duidelik gebou is om ook as ’n kerkie te gebruik.

Die geld vir die bou van die gebou is ingesamel, vanuit die totaal verarmde boerefamilies, onder leiding van mev. Burger. Die werkplanne is ontwerp deur mnr. C.W. Ueckermann, wat ook toesig oor die bouery gehou het.

Oorspronklike Argitek-tekeninge vir die Gedenksaal (Foto’s: HTS Middelburg)

Die hoeksteen van die saal is deur mev. Burger gelê, maar dit is ongelukkig gedurende die pro-Britse gesindheid in die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog 1914-1918 só beskadig dat die inskripsie haas onleesbaar is. Geen inligting is tans beskikbaar oor die opening van die gedenksaaltjie nie.

Die saal is wel vir kerklike aktiwiteite gebruik. By die afstigting van Middelburg-Suidgemeente is die saal as deel van die bruidskat aan die gemeente oorhandig. Aanvanklik is dit nog vir kerkfunksies gebruik.
Onder leiding van mej. Ellie Oosthuizen is daar toe beplan om die gebou as museum vir Middelburg en omgewing in te rig. Die gebou was ten tye buite die skoolterrein van HTS. Weens die, ten tye afgeleë posisie van die saaltjie, is dit nooit as museum ingerig of gebruik nie en dit het weer verval. Die gedenksaaltjie is in 1977 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

Gedenkkerkie voor die 1968 opknapping (Foto KI gekleur)

Tydens ’n raadsvergadering in 2001 besluit die Stadsraad dat die Raad bereid is om die saal, nou geleë op die uitgebreide skoolterrein, aan HTS Middelburg te skenk. Die skool aanvaar dit en knap die gebou op tot die huidige toestand. Tans is die saal die eiendom van die Hoër Tegniese Skool Middelburg.

Program vir die 1968 in gebruikneming
Na opknapping deur die Hoër Tegniese Skool na 2001
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button