Op 20 Mei 1983 ontplof ’n motorbom in Kerkstraat, Pretoria.
Daar sterf 19 mense en 217 word beseer.
Dit word as een van die grootste aanvalle deur die ANC beskou en word jaarliks deur slagoffers herdenk.
Dinsdag het die herdenking van een van die grootste aanvalle teen die land se ekonomie stil-stil verbygegaan.
Ses limpet myne ontplof
Op 9 Junie 1980 ontplof ses limpet myne by die Synthol-aanleg, Sasol twee, op Secunda.
In Oktober 1981 is daar weer ontploffings op Evander, twee mans word ook doodgeskiet.
’n Film, Catch a Fire, is later oor die Sasol-aanvalle gemaak.

Die hoofondersoekbeampte, speur adjudant offisier Fanie Etsebeth (77), het die week onthul dat 52 mense by die Sasol-aanleg aan diens was. Hulle almal sou gesterf het, indien ’n reaktor ontplof het, weens die limpetmyn-aanvalle.
Niemand is egter beseer of dood in die aanval nie.
Die sabotasieskade het R3 miljoen beloop.
Die doodsvonnis opgelê
Drie beskuldigdes se sake is gesentraliseer en hulle het saam in die hooggeregshof verskyn.
David Tshela Moisi (25) is aangekeer en op 19 Augustus 1981 in die hooggeregshof in Pretoria deur regter Charl Theron skuldig bevind aan hoogverraad en die doodstraf opgelê. Moisi is later begenadig.
In dieselfde hofsaak is Johannes Shabangu (25) skuldig bevind aan hoogverraad en ook die doodsvonnis opgelê.
Shabangu is skuldig bevind vir die handgranaat-aanval op die huis van polisie konstabel Mayesa Peter Mahaule naby Barberton en die doodstraf opgelê. Hy is ook begenadig.
Anthony Tsotsobe is skuldig bevind na ’n RPG-aanval in Junie 1980 op die Booysens Polisiestasie. Soos Moisi en Shabangu is hy die doodstraf opgelê, maar begenadig.
Opblaas van die hoofsubstasie
Rogerio Hoffsani Chamusso (32), is later aangekla, dat hy betrokke was by die opblaas van die hoofsubstasie van die munisipaliteit op Evander en vir twee ontploffings aan die buitekant van die Sasol twee aanleg.
Hy is ook aangekla dat hy op 23 Oktober 1980 na ’n karavaan gegaan het by Heuwelfontein, Kendal.
Lukas Abraham Mans en Hendrik Rudolph Gerhardus Booysen, wat konstruksiewerk vir Matla Myn gedoen het, het in ’n sytent gesit.
Daar is beweer dat Chamusso albei mans met sy Makarof pistool doodgeskiet het. Die moorde is deur Flip Lombard ondersoek.
Kolonel Lombard (77) is verlede jaar in ’n hospitaal op Nelspruit oorlede, nadat hy lank siek was met rugmurgkanker.
Skuldig bevind vir die limpetmyn-aanval
Op 24 Oktober 1980 is Chamusso in ’n padblokkade op die Bronkhorstspruit-Groblersdal pad voorgekeer.
Hy het met sy Datsun Stanza stasiewa weggejaag en die motor het gerol.
Chamusso is later op die plaas Keerom, naby Stoffberg, aangekeer.
Sy verhoor het op 6 Desember 1982 in die hooggeregshof in Pretoria ten einde geloop.
Hy is egter net skuldig bevind vir die limpetmyn-aanval op ’n Eskom transformator naby Transvaal Alloys op Witbank.
Die klagtes was deelname aan terroristiese bedrywighede en besit van ontplofbare stowwe, vuurwapens en ammunisie.
Chamusso is tot 24 jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis.
- Die Kerkstraat motorbom met 40 kg plofstof is buite Nedbank Plein in Kerkstraat-Wes gelaat om teen 16:30 op ’n Vrydagmiddag af te gaan. Die teiken was die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) wat meeste van die kantore in die gebou gehuur het. Omdat dit teen spitstyd afgegaan het, is verskeie burgerlike persone dood en beseer. Die hanteerders van die bom, Freddie Shangwe en Ezekial Maseko, sterf ook in die ontploffing, nadat dit 10 minute te vroeg afgegaan het. Ten minste 20 ambulanse is ingespan om die dooies en gewondes af te voer.
Lees ook:
Catch a Fire het “feite verdraai” sê oudpolisieman
Skrapnel tref polisieman toe handgranaat ontplof
