Beurtkrag kom dalk vir Groblersdal
Groblersdal kan dalk op ’n roterende basis sonder elektrisiteit wees!
Daar kan moontlike munisipale beurtkrag vir Groblersdal ingestel word, as gevolg van die die stroomtransformator by die Krugerstraat substasie wat gebrand het.
Volgens mnr. Willie Oosthuizen, wykraadslid, het hy vanoggend die substasie in Krugerstraat besoek, waar hy ’n gesprek met die hoof van die elektrisiteitsafdeling gesels het van Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit.
“Soos inwoners weet, is die elektrisiteit gisteraand herstel, maar daar kon nie deur daardie spesifieke stroomtranformator elektrisiteit oorgedra word nie, want daar is ’n groot kragkabelfout op dieselfde lyn wat opgespoor en herstel moet word. Dit is die oorsaak dat die stroomtransformator in die eerste plek gebrand het.”
Die geaffekteerde stroomtransformator is gisteraand só gekoppel dat die kragtoevoer oor verskeie stroomtransformators versprei is.
“Omdat die sakesektor na-ure 90% gesluit is, kon hierdie stroomtransformators die vrag dra, maar met die opening van die besighede vanoggend, het die elektrisiteit op die transformators aansienlik verhoog en staan dit ook nou die risiko om uit te brand. Dus word daar gespook om die kabelfout dringend op te spoor, sodat die stroombane terug te kan gaan na normaal. Die elektrisiteitspan is op die perseel en besig om die fout te soek.”
Mnr. Oosthuizen het aangedui dat ’n soort munisipale beurtkrag geïmplementeer kan word, wat beteken dat die dorp op ’n roterende basis sonder elektrisiteit sal wees, indien die elektrisiteitsverbruik onder die aanvaarbare vlak bly.
“Tans is die elektrisiteitsverbruik onder die aanvaarbare vlak om die ‘beurtkrag’ te vermy. Die hoof van die elektrisiteitsafdeling vra egter die publiek om vandag alle onnodige toestelle, soos lugversorging en wasmasjiene af te skakel totdat die fout herstel is. As die dorp sy elekstrisiteitsverbruik genoegsaam verminder, kan hierdie ‘beurtkrag’ verhoed word.”
