Video: Dodelike swartmamba buite Marble Hall gevang
’n Swartmamba is buite Marble Hall op ’n plaas gevang.
’n Massiewe swartmamba van ongeveer 2.2m is gisteraand deur ’n plaaslike slangvanger gevang.
Arthur Roden het gisteraand omstreeks 18:33 ’n oproep ontvang oor ’n swartmamba wat in die pompkamer op die plaas, Jog Boerdery, ingegaan het.

Mnr. Jaco van der Berg het mnr. Roden gebel om die slang te vang, omdat die werknemers nie by die pompkamer wou ingaan toe hulle hoor daar is ‘n slang nie.
Die plaas is ongeveer 5km buite Marble Hall geleë op die Vaalfonteinpad.
“Die slang het onder ’n kragboks ingegaan en was dit ’n redelike gespook hom daar uit te kry,” vertel mnr. Roden.
Toe hy uiteindelik die slang onder die kragboks uit het, was hy geskok om te sien hoe lank die slang eintlik was.
“Hy was baie langer as wat hy gelyk het onder die kragboks!”
Mnr. Roden het nie ’n maatband by hom gehad nie, maar verduidelik dat hy 1.97m lank is en die slang beslis langer was as hy. “Ek skat die swartmamba is omtrent 2.2m lank.”
Mnr. Roden het vinnig te werk gegaan om die swartmamba by die Schuinsdraai Natuurreservaat vry te laat.
• Die swartmamba het neurotoksiese gif, wat beteken dat die diafragma aangeval word en die persoon binne ’n kort tydjie sukkel om asem te haal.
Alle mense wat deur swartmambas gepik word, moet antiserum kry. ‘n Paar jaar gelede moes ‘n persoon 15 ampules antiserum toegedien word om sy lewe te red, nadat hy op ‘n plaas op die Stoffbergpad deur ‘n swartmamba gepik is.
• ’n Swartmamba wat verlede week in Middelburg gevang is, is ook in die Loskopvallei-omgewing vrygelaat.
Lees meer: Video: Swartmamba in Aerorand gevang
@die.daller
