Observer Daller

Landdros tydens vonnis: ‘Hof neem heiligheid van lewe in ag’

Die man wat roekeloos bestuur en die oorsaak was dat drie mense, waarvan twee jong seuns, in ’n ongeluk gesterf het, is gevonnis.

Terwyl Jabu Eric Mokwebo (44) vanuit die hof teruggelei is na die selle toe, het hy na die familie van die oorledenes gekyk en gesê: “Thank you,” en half gebuig in hul rigting as teken van respek.

Mokwebo is verlede Donderdag in die Groblersdal Streekhof op drie klagtes van strafbare manslag tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar.

Die voertuig waarin Pieter Rossouw en sy twee kinders, Jannie en JP Rossouw gesterf het. Foto: Verskaf.

Pa en seuns sterf in Slagboomkruising

Sy vonnisoplegging volg na aanleiding van die gebeure waar Pieter Rossouw (40) en sy twee seuns, Jannie (12) en JP (10) hul lewens op 18 Augustus 2019 op die Slagboomkruising verloor het.

“Daar is drie belange wat in ag geneem moet word in die skale van geregtigheid om ’n regverdige vonnis te bereik, waar die erns van die misdryf oorweeg moet word, die gemeenskapsbelang in die saak en die balans van persoonlike belange van die beskuldigde. Die erns van die oortreding spreek vanself. Drie onskuldige mense het hul lewens verloor, waarvan twee kinders was, wat nie kans gekry het om groot te word en hul lewensreis te voltooi nie,” het landdros Jaco Marais tydens vonnisoplegging gesê.

Pieter Rossouw. Foto: Verskaf.

Saak het groot belangstelling in gemeenskap ontlok

Landdros Marais het voorts gemeld dat dit ook ’n baie emosionele saak is, wat groot belangstelling van die gemeenskap ontlok het, omdat kinders hul lewens verloor het.

Marais het gesê dat “die hof ook die heiligheid van die lewe in ag neem. Die vonnis moet as streng genoeg beskou word om die erns van die oortreding te weerspieël en dat die gemeenskap nie moet dink dat dit net ’n klap op die hand is nie. Daarom sou ’n boete ’n onvanpaste vonnis wees, aangesien lewens van mense geëis is.”

Hy het dit ook benadruk dat die gemeenskapsbelang in hierdie saak groot was.
“Hierdie kruising is berug vir mense wat nie by daardie stopstraat stop nie. In hierdie gebied word byna elke tweede maand ’n ongeluk aangemeld en elke paar maande is daar ’n sterfte. Dit spreek alles dieselfde storie, ’n bestuurder wat nie stop by die kruising nie, wat duidelik gemerk is. Dus is dit hoekom die kruising bekend staan as ‘die kruising van die dood.”

Jannie en JP Rossouw. Foto: Verskaf.

Vonnis moet ’n afskrikmiddel wees

Marais het uitgewys dat die gemeenskap elke dag die pad met kinders ry.
“Die gemeenskap sou ’n swaar vonnis verwag vir iemand wat grof nalatig is en geen ag slaan op ander mense se veiligheid nie. Hulle sal hul vertroue in die regstelsel verloor as die vonnisoplegging nie streng genoeg was nie. Vonnisoplegging moet ’n afskrikmiddel wees, en die beskuldigde moet toepaslik gestraf word.”

Voorts het hy gesê dat die straf ook ernstig genoeg moet wees sodat ander mense twee keer sal dink voordat hulle ’n stopstraat sal verontagsaam en aan die gevolge moet dink. Deur ’n heeltemal opgeskorte vonnis te hê, sou die gemeenskap dink dat enigiemand die dood van mense kan veroorsaak sonder enige gevolge.”

Marais het in ag geneem dat die beskuldigdes vir ’n jaar en ’n half in aanhouding was en verantwoordelikheid geneem het deur skuldig te pleit.
Mokwebo is ook ’n eerste oortreder en het opregte berou gewys deur die familie verskoning te vra. Die familie sal nou hopenlik kalmte kan vind deur die afhandeling van die saak.

“Ek hoop jy vind vrede in jou eie lewe vir wat jy gedoen het,” het Marais bygevoeg.

Jabu Eric Mokwebo tydens ’n hofverskyning in Groblersdal. Foto: Janine Saayman.

Mokwebo is broodwinner, maar oorlede was ook broodwinner

Alhoewel die beskuldigde sy werk en huis verloor het as hoof broodwinner, het Marais dit uitgelig dat die oorledene ook die hoof broodwinner was.
Maatskaplike verslae dui aan dat Mokwebo se 21-jarige dogter by ’n kollege studeer en ’n geleentheid het om verder te studeer.

Pieter se dogter het egter nooit daardie kans gekry nie en moes skool verlaat in graad 7 om te begin werk, omdat sy nie meer die finansiële ondersteuning van haar pa gehad het nie.

Doel van vonnis om aanspreeklik gehou te word

“Almal maak ’n fout in die lewe, en moet nie vir die res van hul lewe vir daardie fout betaal nie, veral as dit nie ’n opsetlike oortreding was nie. Die doel van hierdie vonnis is om die beskuldigde aanspreeklik te hou vir wat hulle gedoen het, maar hulle nie te breek nie. Daarvoor sal ek ’n akkumulatiewe vonnis gee omdat al drie aanklagte in een voorval gebeur het.”

• Mokwebo se bestuurderslisensie is ook deur die hof teruggetrek, aangesien daar volgens die padverkeerswet aangedui word dat die hof in gevalle waar ’n oortreder roekeloos of nalatig was, hul bestuurslisensie opgeskort of teruggetrek mag word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button