Veiligheidswenke vir die feesseisoen
Of jy nou weggaan oor die feestyd en of jy tuisbly, misdaad skuil om elke hoek en draai.
Gunmar het verskeie veiligheidswenke gedeel sodat inwoners kan verseker dat hulle en hul bates veilig sal wees gedurende die feesseisoen.
Indien jy sou weggaan:
• Moet nie jou huis onbeskerm agterlaat nie. Verseker dat alle deure en vensters gesluit is en dat daar ’n sekuriteitstelsel aktief is.
• Vra ’n betroubare buurman of vriend om ’n oog op jou huis te hou terwyl jy weg is.
• Moenie op sosiale media deel dat jy weg is nie, om te voorkom dat mense bewus word van jou afwesigheid.
• Wees bedag van jou omgewing wanneer jy in ’n nuwe plek is, en moenie waardevolle items agterlaat nie.
• Moenie jou kontant te veel wys nie, en gebruik eerder bankkaarte vir aankope.
• Verseker dat jou voertuig se deure gesluit is en dat daar nie waardevolle items sigbaar is nie.
• Maak seker belangrike noodnommers is byderhand en weet waar die naaste mediese fasiliteite is.
• Wees bewus van jou omgewing en vermy risikogebiede, veral in die nag.
• Laat weet jou sekuriteitsfirma van jou afwesigheid sodat hulle meer bewus kan wees van aktiwiteite in jou omgewing.
• Wees versigtig met drankgebruik en moenie drank van vreemdelinge aanvaar nie.
Indien jy tuisbly dié feesseisoen:
• Verseker dat jou huis se sekuriteitsmaatreëls, soos alarmsisteme, aktief is en dat alle deure en vensters gesluit is.
• Moenie waardevolle items sigbaar naby vensters los nie om inbrake te voorkom.
• Wees versigtig van wat jy op sosiale media deel en moenie sê dat jy alleen tuis is nie.
• Sit verskillende ligte aan, wat die indruk van ’n bewoonde en aktiewe huis kan skep.
• Wees waaksaam vir ongewone aktiwiteite in jou buurt en meld enige verdagte situasies aan by jou sekuriteitsfirma.
• Hou ’n oog op jou watermeter, daar is byna elke aand ’n watermeter wat gesteel word. Rapporteer dadelik aan Sekhukhune Distriksmunisipaliteit, sodat die water toegedraai kan word en die meter vervang kan word. Rapporteer dit ook aan jou sekuriteitsfirma en buurtwag as bewusmaking.
• Moenie vreemdelinge sonder toesig toegang tot jou huis gee nie, selfs nie eers vir versoeke soos om water te drink of soortgelyke verskonings nie.
• Berg sleutels, selfone en ander draagbare elektroniese toestelle buite sig, veral wanneer jy net vir ’n oomblik die huis verlaat.
• Hou ’n lys van nood-kontaknommers naby en maak seker dat familielede weet hoe om jou in ’n noodgeval te bereik.
• Hou jou grasperk skoon, dit skep die indruk dat jy tuis is.
