Toerisme in die Vallei
Wie het geweet dat Marble Hall 'n inligtingsentrum gehad het?
In 2000 was Marble Hall baie trots gewees om hul eie toerismesentrum, Sunshine Valley Information Centre, te open. Ongelukkig het die sentrum net ’n kort tydjie bestaan.
Die Sunshine Valley Information Centre het in September 2000, ná byna 18 maande se vergaderings en onderhandelinge met verskeie rolspelers, uiteindelik hul deure geopen.
Die Marble Hall munisipaliteit het daardie jare ’n spasie in die biblioteek vrygestel waar die sentrum bedryf kon word. Meubels en ’n rekenaar is ook verskaf.
Mnr. Alton Doller was aan die stuur van sake by dié sentrum.

Toerpakkette en kulturele erfenisterreine is geskep, terwyl historiese plekke en gebeurtenisse uitgelig is en toeroperateurs aangemoedig is om toeriste na die area te lok.
Die moontlike opening van ’n PostNet-franchise was ook deel van hul vooruitsigte. Vandag is die PostNet steeds in Marble Hall.
’n Sunshine Valley-roete is ook uitgewerk, wat gestrek het vanaf Loskopdam, deur Groblersdal tot by Marble Hall. Hierdie roete het verskeie interessanthede en historiese plekke op die roete uitgelig.
Mnr. Doller wou hierdie roete bemark as ’n toerismeroete, en al die lodges, historiese plekke en oorde het byeengekom om hierdie roete te bespreek.
Volgens me. Ammie Erasmus, wat vir 10 jaar as bibliotekaresse gewerk het by die Marble Hall biblioteek, onthou sy toe dié sentrum geopen is by die biblioteek.
Sy het egter in 2000 bedank by die biblioteek en woon vir die afgelope agt jaar anderkant Roedtan.
“Ongelukkig het hierdie sentrum nie veel vrugte afgewerp nie. Ek is nie seker hoe lank dit oop was nie, dit was nie lank nie, waarna dit weens finansiële redes gesluit het,” vertel me. Erasmus.
Volgens mnr. Panayiotes Paissopoulos, voorheen voorsitter by die Marble Hall Sakekamer, was hierdie projek vir die toerismesentrum bemark deur die destydse Marble Hall Sakekamer, maar is dit deur individue gehardloop.
“Mnr. Doller wou graag die projek onder die munisipaliteit se sambreel ingebring het en verskeie vergaderings is gehou, maar die uiteinde was toe nie ’n sukses nie.”
Volgens me. Lynette Esson, het haar oorlede man, mnr. Bruce Esson, ook geweldig tyd spandeer om te help dat hierdie projek op die been gebring word en gehelp waar hy kon, aangesien hy ook vir jare by die Marble Hall Sakekamer betrokke was.
Sy sê egter dat dié projek baie staat gemaak het op finansiële bydraes vanaf sakelui en ander rolspelers, maar dat hierdie projek egter nie lank voortgeduur het nie, aangesien die finansiële bydraes net nie genoeg was om die sentrum te laat kop bo water hou nie.
Die hartseer van die verhaal is, dat Groblersdal en Marble Hall geen inligting- of toerismesentrums het nie, alhoewel ons in ’n pragtige, unieke en historiese omgewing woon. Dus gaan verskeie historiese inligting en unieke plekke tot niet, aangesien daar geen spesifieke plek is wat genoeg omgee om hierdie plekke en inligting te bewaar nie.

