Observer Daller

Anika is redenaar van die jaar

Anika Pruis is nie net ’n skitterende redenaar nie, maar het ook ’n mooi hart wat graag eendag mense wil help.

Anika Pruis (15), ’n graad 9 leerling van Hoërskool Ben Viljoen, is tydens die prysuitdeling aangekondig as die redenaar van 2024.

Sy het ook in 2023 die junior redenaar vir die jaar toekenning gewen en het talle kere op laerskool met dié prys weggestap.

Het hard gewerk daarvoor

Anika sê dat sy “baie bevoorreg en dankbaar” is omdat sy dit ontvang het. “Die hele jaar deur het ek hard gewerk en aangehou om my alles te gee. Ek is bly ek kon my skool se naam verteenwoordig in die landsfinaal en ek is ook trots op myself en al my vordering. Dit is ’n baie groot eer om hierdie toekenning te kon kry en beteken baie vir my.”

In 2019, 2021 en 2024 is sy gekies om aan die ATKV nasionale rondte redenaarskompetisie deel te neem. Sy was ook in 2018 en 2019 gekies om aan die Radikale nasionale rondte deel te neem.

Anika het ook al redenaarskompetisies soos Op die Tong en die Bosveld Interhoër gewen. Sy is besonders trots op hierdie prestasies.

Sy sê om ’n goeie redenaar te wees, help haar in haar daaglikse- en skoollewe.

Kan vinnig op haar voete dink

“Dit help my om vinnig op my voete te kan dink en myself te kan verdedig, aangesien ek goed kan redeneer. By die skool help redenaars my met opstelle, gedigte, toesprake en met my basiese woordeskat en bewustheid. Dit verbreed en verhelder mens se kennis verskriklik baie. Om redenaars te doen is een van die beste keuses wat ek al gemaak het. My heel gunsteling deel van ’n kompetisie is wanneer jy klaar jou toespraak gelewer het, die gevoel van trots wat jy op jouself het om só ’n goeie toespraak te kon lewer het en al die onbeplande skerp dinge wat jy ook nog gesê het maak die gevoel onbeskryflik.”

Volgens Anika is die beste manier om haarself voor te berei vir ’n redenaarskompetisie, “om aan moontlikhede te dink wat hulle in die kompetisie sal en kan gee. Ek dink dan watter standpunte ek sal kan gebruik en gaan doen navorsing daaroor. Beoordelaars hou van so paar spreekwoorde, idiome en feite, so ek gaan leer so paar wat in alle toesprake kan werk. Dis baie belangrik om alledaagse nuus te weet, sodat jy altyd ingelig is oor wat in die wêreld aangaan en dit ook as standpunte in jou toespraak kan gebruik.”

Vooruitsigte vir 2025

Anika se vooruitsigte vir haar redenaarsbeplanning vir 2025 sluit in om hard te werk, nie lui te raak as sy moeg is nie en om weer gekies te word vir die ATKV nasionale rondte redenaarskompetisie. “Ek werk hard en gee my beste. Wat vir my voorlê vir 2025, los ek in God se hande. Harde werk gee beloning vir dit wat jy insit.”

Ma is grootste ondersteuner

Sy sê dat haar ma haar dryfkrag is om haar beste te geen in redenaarskompetisies en is sy ook haar grootste ondersteuner. “Vanaf graad 1, toe ek die eerste keer my voete op die verhoog geplaas het tot nou, was my ma in die saal waar sy my aangemoedig het vir elke kompetisie. Sy help my altyd my volle potensiaal bereik, stop my vol selfvertroue, troos my in verlies en is altyd trots op elke prestasie wat ek bereik. Daarvoor is ek oneindig dankbaar. Sy geen nie om hoe ek presteer in ’n kompetisie nie, sy is altyd trots dat ek my beste gee. Sy sien altyd die moeite en harde werk wat ek insit en daarom is sy ook my dryfkrag.”

Wil help, besluit op watter manier

Anika sê dat sy nog nie 100% seker is wat sy eendag wil studeer nie, maar dat sy op die huidige oomblik besluit tussen ortopeed en advokaat. “My hart trek na die mediese rigting. Die menslike liggaam is ’n vreeslike interessante organisme, wat my baie fassineer. Ek kan myself sien in die teater, besig om mense te help, maar aan die ander kant, gaan my hart daarna uit om te redeneer vir wat reg is en onskuldige mense te help om hulself teen verkeerdes te verdedig. Ek wil graag mense help, ek besluit net op watter manier.”

Volgens haar, beoog sy ook om redenaars op universiteit aan te pak. “Redenaars het soveel voordele vir ’n mens en het my baie gehelp met alledaagse take in die lewe. Ek sal so lank moontlik aan dit vasklou.”


Sal skool se naam hoog hou

In Anika se opinie, is Hoërskool Ben Viljoen ook ’n aanwins vir leerlinge wat aan redenaars wil deelneem. “Die ondersteuningstelsel wat die skool aan hul leerling bied is fantasties. Hulle is trots op my, en ek is voorwaar ’n trotse Daller en sal altyd Ben Viljoen se naam hoog hou.”


Wil suksesvol én gelukkig wees

Anika se grootste droom is om eendag suksesvol en gelukkig te wees. “Om by die huis aan te kom, gevul met mense wat jou oplig op swaar dae en my nie verder aftrek nie. Mense wat by jou sal staan deur dik en dun, mense wat vir jou lief is met alles wat hulle het. Ek wil ook graag eendag as my ma aftree vir haar alles gee wat sy graag wil hê. Sy het my vir baie jare gehelp deur die struikelblokke van my lewe, en sy verdien dit.”

Moenie jou waardes verander nie

Haar leuse is: “Moet nooit jou persoonlike waardes en oortuigings vir enige iemand verander nie. Dié wat jou daarvoor respekteer en aanvaar, is dié wat jy in jou lewe wil hê”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button