Groblersdal staatswerkers voel hulle word geviktimiseer en is bang hulle verloor hul huise
Staatswerkers wie se krag en water afgesit is, vrees nou dat hulle ook hul huise kan verloor.
22 inwoners van Groblersdal, wat as staatswerkers huise vanaf die regering toegeken is as deel van hul voordele, het hul misnoeë uitgespreek oor die beweerde viktimisering vanaf die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (DOWI).
Die huise behoort aan die DOWI.
Vergadering
Dié inwoners het saamgeruk om tydens ’n vergadering op 11 Maart hul klagtes met Willie Oosthuizen, wykraadslid van Groblersdal, asook Nico Pienaar, parlementslid in die Nasionale Raad van Provinsies-verteenwoordiger van die DA vir Limpopo, te bespreek en vir hulp te vra.
Elektrisiteit en water afgeskakel
Volgens Nicolene Barendse, wat opgetree het as die gemeenskap se woordvoerder, is talle van die staatswerkers se huise se elektrisiteit en water afgesny op 4 Maart.
Inwoners het aangedui dat hul in staat was om ’n brief te bekom wat deur die DOWI aan Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit gerig is. Die DOWI het klaarblyklik versoek dat huise wat aan die DOWI behoort, se elektrisiteit afgeskakel moet word, aangesien die DOWI die geregtelike eienaars van die huise is.
Volgens Oosthuizen het hy ook by Sekhukhune Distriksmunisipaliteit inligting ontvang dat hulle die dieselfde brief ontvang het om water af te sny by huise wat aan die DOWI behoort in Groblersdal.
“Die elektrisiteit en water is afgesit, of die huurder op datum was met betalings of nie. Daar is inwoners wie tot vandag nog nie water of krag het nie. Intussen kon ’n aantal van ons daarin slaag om dit weer aangeskakel te kry,” vertel Barendse.
Oosthuizen was ook in staat om Sekhukhune Distriks Munisipaliteit te kry om die inwoners se water weer oop te draai, maar te beperk tot die grondwetlike reg op water wat ’n minimum van 25 liter per persoon per dag is.
Alhoewel twee inwoners aangedui het dat hul water nog steeds totaal afgesit is, het Pienaar gesê dat dit teen die grondwetlike reg is om die water totaal af te sit en dat ’n saak by die polisiestasie geopen kan word.
Uitsettingsbriewe
Barendse het aangedui dat daar kort nadat die water en krag afgesny is, inwoners ook uitsettingsbriewe vanaf die DOWI ontvang het. “Eers is ons sonder krag en water, en nou kry ons uitsettingsbriewe. Die briewe dui daarop dat die huidige huurders binne twee maande vanaf die perseel moet wees.”
Die staatswerkers het na bewering verskeie maal uitgereik na die DOWI rakende die probleem, maar geen antwoord ontvang nie.
Aansoeke om huise te koop by DOWI
Tydens die vergadering het die inwoners ook genoem dat talle van hulle al in 2007 aansoek gedoen het om die huise by die DOWI oor te koop, terwyl Groblersdal nog onder Mpumalanga was. “Ongelukkig toe die oorskakeling van Mpumalanga na Limpopo plaasgevind het, het baie van die aansoeke deur die mat geval. Inwoners het elke jaar daarna nog probeer aansoek doen om hul huise te koop. Daar was ook vir jare ’n moratorium op die DOWI huise, wat daarop gedui het dat die huise in die DOWI se besit sal bly en nie oorgekoop kan word nie. Sover ons kennis strek is daar reeds aangedui dat die moratorium gelig is.”
Tien staatswerkers van Groblersdal het weer op 21 Februarie ’n aansoek gerig aan die DOWI om hul huise te wil koop, maar is daar terugvoer ontvang dat die moratorium nog in plek is.
Geen instandhouding
“Geen instandhouding is, sedert baie van ons jare gelede in die huise ingetrek het, gedoen nie. Ons het almal al baie geld in die huise ingestort om dit in stand te hou. Ons voel dit is net regverdig dat ons eerste keuse sou kry om die huise te kon koop, aangesien ons reeds so baie geld daarin spandeer het,” het Barendse gemeld.
Die inwoners is bang dat aangesien van hul uitsettingsbriewe ontvang het, die huise onder hul neuse aan ander persone verkoop sal word, alhoewel die meerderheid van hul bereid is om hierdie huise by die DOWI oor te koop.
Wil net regverdige kans hê
“Ons einddoel is om agter die kap van die byl te kom oor hoekom ons krag en water afgeskakel is, hoekom uitsettingsbriewe ontvang word en hoekom ons nie die huise kan oorkoop by die DOWI nie. Die meerderheid van ons wil graag die huise koop, aangesien ons reeds vir baie jare in die huise woon. Ons verwag nie om die huise gratis te ontvang nie, maar ons verwag ’n regverdige geleentheid en regverdige prys om die huise te kan koop,” het Barendse afgesluit.
Terugvoer van DOWI
Die Daller het navraag gedoen by Thami Mchunu, woordvoerder van die nasionale DOWI.
Hy het gesê: “Net om konteks aan hierdie saak te gee, is die Nasionale Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur steeds verantwoordelik vir munisipale dienste vir gebruikersdepartemente. Munisipale dienste plaas heffings op grond wat betaalbaar is deur die geregistreerde eiendomseienaar wat in hierdie geval die DOWI is.
Onwettige bewoners en afskakel van water en krag
Hy sê dat die DOWI in November 2024 ’n lys van eiendomme ontvang het waarin rekeninge wat deur munisipaliteite ingesamel is deur gebruikersdepartemente betwis is omdat die eiendomme onwettige bewoners het. Hierdie lys het ’n onmiddellike reaksie van die DOWI veroorsaak om enige toekomstige heffings op die eiendomme wat geraak word, te stop.
Wil vrugtelose uitgawes hokslaan
“Die Streekkantoor het die munisipaliteite opdrag gegee om die elektrisiteit te ontkoppel in ’n poging om toekomstige heffings te voorkom. Hierdie instruksies is uitgereik om die okkupasie van staatseiendomme deur onwettige okkupeerders te beheer en om vrugtelose uitgawes wat daarmee verband hou, hok te slaan. Kennisgewings is aan onwettige besetters van staatshuise in Groblersdal en Marble Hall gestuur. Dit is teen die einde van 2024 deur die kantoor van die staatsprokureur gedoen.
Hy het gemeld dat sommige waterrekeninge op datum is, omdat DOWI betaal het, maar nadat dit nie die koste van gebruikersdepartemente verhaal kon word nie, is besluit om dienste te ontkoppel.
“Eisbriewe (uitsettingskennisgewings) is baie maande voor munisipale dienste ontkoppel is, beteken.”
Instandhouding en verkoop van DOWI huise
Mchunu het gesê dat die departement ’n stelsel in plek het vir instandhouding van staatshuise, en dat daardie stelsel nog altyd in gebruik was.
“Verskeie skakelings is met die geaffekteerde individue aangegaan, ander het selfs aansoek gedoen vir huurkontrakte van die huise nadat hulle deur DOWI ingelig is oor nuwe beleide, en aansoeke in verskeie stadiums.
Hy stel dit duidelik dat die DOWI geen van hul huise tans verkoop nie en nog nooit enige program gehad het om staatshuise te verkoop nie.
“Onlangs het kandidate aansoek gedoen vir beide huur en aankoop van die huis, op een van hulle is reeds gereageer, terwyl die ander betrokke is by onderhandelinge vir huur.
“Die DOWI het ook nie ’n voorkeurbeleid oor die verkoop van sy eiendomme nie. Die staat bestee ook voortdurend geld aan die instandhouding van sy eiendomme.”
Belastingbetalers se geld nie vermors
Mchunu het ter afsluiting genoem dat die DOWI poog om onwettige okkupasie en benutting van sy eiendomme te stop en die eiendomme vir openbare dienste beskikbaar te stel. Dit is om te verseker dat alle bewoners wettig is en dat houkoste verhaal word van gebruikersdepartemente wat aan die eiendomme toegeken is, “sodat belastingbetalers se geld nie vermors word om vir individuele uitgawes te betaal nie, maar vir openbare dienste bestee word.”
