Molotopad opgraderings 40% klaar
Daar is hierdie week bevestig dat die opgraderingsprojek op die R573 (Molotopad) tussen Marble Hall en Siyabuswa 40% voltooi is.
Volgens Flip Jacobs, wykraadslid, is die konstruksie aan dié pad op skedule en sal nuwe ryoppervlakke binnekort gesien kan word.
Hy vertel dat daar beplan word dat die verkeersirkel by die ingang na Marble Hall na die R573 ook binne die volgende maand 80% voltooi sal wees.
Jacobs waarsku motoriste dat daar deurlopend stop-en-ry punte sal wees tot die projek voltooi is. Padverbruikers kan een tot twee stop-en-ry punte ’n week verwag op dié pad.
Volgens Jacobs sal die slaggate, wat deur die geweldige baie reën veroorsaak is, ook aangespreek word.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) het reeds in Januarie aan die Daller bevestig dat hul kontrak met die huidige kontrakteur vir die konstrukie van hierdie pad teen November sal eindig.
Hierdie projek het reeds in Januarie 2017 begin, maar met verskeie struikelblokke, het die projek ’n paar keer tot stilstand gekom.
Sedert Februarie verlede jaar is ’n nuwe kontrakteur aangestel om die werk te voltooi en is die projek goed op dreef.
Die waarde van die projek beloop R419 miljoen.
Padverbruikers word aangeraai om versigtig en bedagsaam te wees wanneer hulle die R573 gebruik. “Dit is belangrik vir alle padverbruikers om aan verkeersreëls te voldoen ten einde hul eie veiligheid en dié van ander te verseker. Meeste ongelukke word deur menslike foute veroorsaak,” sê Jacobs.
