Was dit klappers, ‘n uitlaatpyp of skote wat geklap het?
Sosiale media was aan die brand nadat inwoners van Groblersdal klapgeluide, wat soos skote geklink het, in die dorp gehoor het.
Die klapgeluide is Sondag, 29 Junie, om 23:23 in die omgewing van Tortelduifstraaf en CVO Gromar gehoor. Inwoners het op die Groblersdal Misdaad Rapportering WhatsApp groep gemeld dat hulle ‘n ‘klomp skote’ gehoor het.
Gunmar het op die groep bevestig dat hul ook inligting ontvang het van geweerskote wat gevuur is in die rigting van CVO Gromar.
Loskop Alarms en Gunmar het die area patrolleer, maar kon geen teken van enige beweging optel of sien waar die klapgeluide vandaan gekom het nie.
Daar is baie bespiegelings oor die klapgeluide, met persone wat dink dat dit ‘n voertuig kon gewees het wat ‘n opgegradeerde uitlaatpyp het, ‘n vragmotor se band wat gebars het of dalk persone wat klappers in die dorp geskiet het.
Daar is egter geen verdagtes of persone opgemerk nie en bly dié klapgeluide stééds ‘n raaisel!
