Vrou beseer in ongeluk op R25
’n Vrou is ernstig beseer in ’n ongeluk nadat ’n Toyota Quantum met ’n sleepwa, Mercedes en Corsa bakkie met mekaar gebots het op die R25 buite Groblersdal.
Die ongeluk het Saterdag, 12 Julie, omstreeks 16:00 plaasgevind direk oorkant Carmelo Investments.
Die Quantum was onderweg na Groblersdal, terwyl die bakkie en Mercedes in Dennilton se rigting gereis het, toe die ongeluk plaasvind het.

Volgens mnr. Derrick Maidment, 24 Seven Logistics, het die Quantum ’n oorlaaide sleepwa gesleep. Die bestuurder het beheer verloor oor die sleepwa, wat ’n botsing met die bakkie veroorsaak het, wat weer op sy beurt met die Mercedes gebots het.
Daar was 12 insittendes in die Quantum, twee in die bakkie en twee in die Mercedes. ’n Vrou, wat ’n insittende was in die Mercedes, het ernstige beserings opgedoen en is sy deur die staatsambulansdienste vervoer na Groblersdal Hospitaal vir verdere behandeling.

Maidment vertel dat Groblersdal se polisie, brandweer en staatsambulansdienste blitsvinnig en binne minute op die toneel was. “Ons area se nooddienste se reaksietyd is regtig asemrowend goed,” sê Maidment.
Een baan van die pad was vir ’n paar ure gesluit vir opruiming.

Die Quantum is deur 24 Seven Logistics van die toneel verwyder, terwyl die bakkie en Mercedes privaat verwyder is.
