’n Tuin vir die verkeersdepartement!
’n Pratige nuwe tuin is voor die departement van verkeer in Groblersdal geskep!

Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit het ’n tuinverfraaiing- en parke-onderhoudsprojek begin om verskeie tuine en parke in Groblersdal weer op te knap.
Een van hierdie sluit die nuwe tuin voor die departement van verkeer, op die hoek van Barlowstraat en Robertsonlaan in.
Talle inwoners van Groblersdal het die afgelope twee weke die vordering van die skep van hierdie tuin dopgehou.
Die munisipaliteit is steeds besig daar. Die sypaadjie is geplavei, gras is geplant en beddings is gemaak. Hier en daar is ’n plant aangebring, maar sal daar nog baie plante en blomme, asook ’n fontein aangebring word.

Volgens Simon Makua, munisipale woordvoerder, is een van hul kernfunksies die verfraaiing van tuine en die instandhouding van parke in Groblersdal.
“Hierdie inisiatief is daarop gemik om ’n hoëgehalte-omgewing te skep, terwyl die aantrekkingskrag van die omliggende gebied verbeter word. Ons wil graag besin oor ons daaglikse prestasies in die bestuur van die aktiwiteit wat in hierdie verband onderneem word. Ons pogings is gefokus op die skep van lewendige en verwelkomende ruimtes vir die gemeenskap om te geniet.”
Op die oomblik kan die munisipaliteit nie bevestig wanneer dié projekte voltooi sal wees nie, aangesien hulle poog om al die munisipaliteit se satellietkantore by die projek in te sluit.
“Ons is daartoe verbind om ’n omvattende verfraaiingsplan te lewer wat aan die behoeftes van alle inwoners voldoen. Ons waardeer die gemeenskap se ondersteuning en geduld, terwyl ons werk aan die verbetering en funksionaliteit van ons openbare ruimtes,” sê Makua.