18 onwettige immigrante gearresteer
Tydens ’n operasie om onwettige stalletjies op die R25 plat te vee, is 18 onwettige immigrante in hegtenis geneem.
Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit (EMPM) het bevestig dat daar 18 onwettige immigrante in hegtenis geneem is tydens die operasie wat hulle geloods het om die onwettige stalletjies op die R25 plat te vee.
Volgens Simon Makua, EMPM woordvoerder, is die sloping van die ongemagtigde strukture ’n noodsaaklike stap om openbare veiligheid en wettige grondgebruik te handhaaf.
In die vroeë oggendure van 11 Augustus, het die munisipaliteit ’n operasie begin, waar verskeie rolspelers betrokke was, om die ongemagtigde strukture en informele nedersettings langs die R25 padreserwe te verwyder.

“Hierdie besliste ingryping is onderneem in belang van openbare veiligheid en om die integriteit van kritieke padinfrastruktuur te handhaaf. Die teenwoordigheid van hierdie ongemagtigde strukture het ernstige veiligheidsrisiko’s vir motoriste en voetgangers ingehou, sigbaarheid belemmer, padonderhoud belemmer en munisipale verordeninge en ruimtelike beplanningsregulasies oortree. Die sloping was ’n noodsaaklike stap om openbare veiligheid en onwettige grondgebruik te handhaaf,” het Makua gesê.
Makua het gesê dat daar ’n totaal van 18 individue, ses mans, agt vroue en vier kinders, in hegtenis geneem is tydens die operasie, aangesien hulle nie die geldige dokumentasie gehad het nie.
“Hierdie sake is aan die betrokke owerhede oorhandig vir verdere verwerking,” sê Makua.
Die munisipaliteit het ook sedert verlede Maandag elke dag na die terrein teruggekeer om die gebied skoon te maak om enige pogings om strukture te herbou, te voorkom. “Die terrein word ook noukeurig gemonitor om herbesetting te voorkom.”

Volgens Makua was die terugvoer van die publiek oor die operasie grootliks positief. “Baie inwoners het hul waardering uitgespreek vir die munisipaliteit se optrede en het verbeterde veiligheid en netheid in die gebied opgemerk. Daar was ook versoeke dat die munisipaliteit met hierdie program moet voortgaan”.
