Observer Daller

Oord-besoeker vertel van traumatiese gebeure toe kind verdrink

’n Oordbesoeker het vertel van die hartseer gebeure waar ’n dogtertjie op die bodem van ’n swembad gevind is.

Besoekers aan ’n oord in Groblersdal is erg getraumatiseer na ’n dogtertjie Saterdag tussen 13:00 en 14:00 verdrink het.

Daar is aan die Daller vertel dat die dogtertjie op die bodem van een van die swembaddens gevind is.

Hartseer gebeure geskets

’n Besoeker (wat op versoek anoniem wil bly), meld dat hulle ’n kinderpartytjie by De Villa River Resort op die N11 in Groblersdal bygewoon het.

“Ons het nie presies gesien wat gebeur het voor die dogtertjie uit die swembad gehaal is nie. Sy was op die bodem van die swembad gevind waar die groot glybaan van die oord by die swembad inloop. Sy is langs die swembad neergelê. Ek skat haar tien of elf jaar oud. My man en ’n ander vrou het dadelik mond-tot-mond asemhaling begin.”

Die besoeker vertel dat hul kinders genadiglik nie veel van die gebeure gesien het nie en dat die volwassenes in hul groep dadelik hulp begin soek het.

“Daar was ’n groep persone wat langs die dogtertjie gestaan het, maar dis moeilik om te sê of die dogtertjie se ouers of familie deel uitgemaak het van die groep. Daar was ’n vrou wat ek vermoed die dogtertjie se ma is. Sy het in Engels gesê dat sy oral na die dogtertjie gesoek het.”

Geen hulp beskikbaar

Hulle is na die noodhulpkamer, maar dit was gesluit.

“Ons het hulp gaan soek by die personeellid by die kroeg. Die meisie het op die besoekers geskree om iemand te bel. By ontvangs het die personeellid nie geweet wat om te doen nie, waarna ek ’n bord met noodnommers op gesien het naby ontvangs. Ek het dadelik begin om van hierdie nommers te bel.”

Volgens die vrou het die meeste van die noodnommers nie gewerk nie en die nommers wat wel gewerk het, het by slangvangers uitgekom, wie se enigste raad was om Groblersdal Hospitaal te kontak.

“Daar was nog ’n personeellid wat later daar aangekom het, maar gesê het dat hul nie gesien het wat gebeur het nie, want hul moes wegstap vir ’n oomblik.”

Dit het vir haar gevoel of niemand geweet het wat om te doen nie. Daar was nie noodhulp beskikbaar nie en noodnommers het nie gewerk nie. ’n Paar mense het na die nabygeleë winkels gery om nood kontaknommers te kry.

“Iemand het later gesê dat ’n ambulansdiens in die hande gekry is en op pad is.”

Mond-tot-mond asemhaling tevergeefs

Die besoeker het vertel dat die mond-tot-mond asemhaling tevergeefs was en dat iemand later die dogtertjie met ’n handdoek toegegooi het. Sy het opgemerk dat ’n vrou, wat vermoedelik die kind se ma is, begin huil het.

“Die vrou wat my man gehelp het met mond-tot-mond asemhaling het gesê dat daar bloed by die dogtertjie se neusie uitgekom het. Ons vermoed sy moes dalk haar kop gestamp het voor sy verdrink het.”

Die besoeker en hul groep het stadig hul items begin oppak en opgeruim waar hul die kinderpartytjie gehou het. “Dit het ons ongeveer ’n uur en ’n half geneem om alles in die voertuie te laai en teen die tyd wat ons gery het, was daar steeds geen nooddienste op die toneel nie.”

Volgens die besoeker het hul ’n vrywaringsvorm geteken voor hul by die oord ingegaan het.

“Dit was maar baie erg vir ons almal. Ongelukke kan so vining gebeur.”
• Die dogtertjie se naam, ouderdom en oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie.

Kommentaar

• Die Daller het uitgereik na die De Villa River Resort se bestuur rakende die voorval. Hulle wil egter nie op hierdie stadium enige kommentaar lewer nie.

• Philadelphia EMS het die kind dood verklaar.

• Die Daller het ook navrae gerig aan kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, maar geen terugvoer is tot op hede ontvang nie.

• Alfred Mokoana, woordvoerder van Groblersdal Hospitaal, het ook nog nie reageer op navrae nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button